Lig-kuns


    (Bladsy 1 van 2)   
    « Vorige
      
    1
      2  Volgende »

    Rolprent: The Help

    1963. Jackson. Mississippi. Een jaar voor die Wet op Burgerregte.

       Skeeter – oftewel Eugenia Phelan (Emma Stone)– het pas afgestudeer as joernalis. Sy kry ‘n netelige betrekking by ‘n plaaslike koerant: huishoudelike probleme. Soos hoe om uie te skil sonder dat jou oë traan. Hiervan weet sy niks. Sy gaan kers opsteek by Aibileen Clark, haar beste vriendin se huishulp. Maar Skeeter het ‘n ander ideaal. Sy wil ‘n boek skryf. Oor hoe swart huishulpe die wit vroue waarneem in wie se huise hulle werk.


    Rolprent: Thor

    Thor behaal tans baie goeie punte op die lys van populêre rolprente. Weens my belangstelling in mites en mitologie, kon ek die fliek dus nie misloop nie. My wonderwêreld waarin ek onwrikbaar glo, gaan uiteindelik werklikheid word: daarvoor gaan ‘surround sound’[i] en ‘n 3-D brilletjie sorg!


    The King's Speech

    Rolprente wat op werklike historiese gebeure gebaseer is, loop die risiko om in een van twee uiterstes te verval: dit is òf ‘n saai, dokumentêre weergawe wat bloot inligting oordra, òf dit dramatiseer die gebeure tot so ‘n mate dat dit netsowel maar fiksie kan wees. Gebeure in die verre verlede waaroor feite betreklik vaag is, gee ‘n regisseur redelike vryheid tot interpretasie, maar The King’s Speech handel oor opspraakwekkende gebeure, minder as ‘n honderd jaar gelede. In 1936 abdikeer Edward VIII van Engeland om met die Amerikaanse sosiale vlinder, Wallis Simpson, te trou en sy jonger broer, George VI neem die troon oor. In 1939 breek die Tweede Wêreldoorlog uit.


    Black Swan

    Ballet is mooi om na te kyk. ‘n Mens vergaap jou aan beeldskone ballerinas wat skynbaar sonder inspanning oor die verhoog sweef, op die punte van hul tone in die rondte tol, en ingewikkelde passies uitvoer sonder om te struikel. Regisseur Darren Aronofski neem die kyker egter ook agter die skerms in - en dis nie ‘n mooi prentjie nie.


    Rolprent: Oorlogswinter [Winter in Wartime]

    Nederland, Januarie 1945, teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog. As gevolg van die oorlog en die Duitse besetting in Nederland, is die skole gesluit: vir veertienjarige Michiel is die lewe dus betreklik vervelig en hy jeuk vir avontuur. Die openingstoneel van die fliek is Michiel se oomblik: hy sien hoe ‘n Engelse vliegtuig afgeskiet word, en iewers in die bosse in vlamme neerstort. Die volgende dag gaan hy en ‘n maat ondersoek instel, tot ergernis van die Nazi’s. Met groot pret ontduik die twee kwajongens die soldate, maar Michiel se fiets gly, en die Nazi’s bring hom voor stok voor sy pa, die burgemeester van die dorp.


    Rolprent: Creation

    Creation is nie ‘n dokumentêre fliek of ‘n biografie oor Darwin nie. Veel eerder is dit ‘n interpretasie van twee aspekte van sy lewe: sy stryd tussen die wetenskap en geloof, en die besondere verhouding met sy dogter Annie. Annie’s Box, ‘n interpretasie van Darwin se lewe deur sy agter-agter-kleinseun, Randal Keyes, is as basis vir hierdie rolprent gebruik.

    Rolprent: The Maid [La Nana]

    Rolprent is by uitstek ‘n medium wat van terugflitse gebruik maak. ‘n Karakter se vreemde, afwykende optrede word dikwels belig deur traumatiese gebeure uit sy/haar kinderjare. ‘n Goeie rolprent verloop selde chronologies. Ek sê selde, want The Maid [La Nana] is ‘n uitsondering op dié reël.


    Bioskoop: die magtigste kunswerk van die 20e eeu

    Jy koop jou kaartjie, jou coke en jou springmielies. Jy stap die teater binne, wikkel jouself gemaklik in jou stoel. Voor jou is ‘n skerm, maar jy neem dit sonder veel belangstelling waar. Dan begin dit donker word. Jy voel ‘n aangename sensasie van opwinding. En skielik is dit heeltemal donker. Die skerm verlig. En jou totale universum verander eensklaps. Binne enkele oomblikke betree jy ‘n nuwe wêreld. Daarbuite bestaan nie meer nie, jy is selfs geïsoleer van jou mede-kykers. In die donkerte van die teater word jy oorspoel deur beelde, en jy aanvaar dit as die lewe.

     


    Rolprent: The Reader

    Terug van die skool op pad huis toe, word ‘n jong seun siek in die trem en ‘n ouer vrou help hom. En dit is die eerste ontmoeting tussen Michael Berg (op hierdie stadium gespeel deur David Kross) en Hanna Schmitz (Kate Winslet). Michael is sowat vyftien jaar oud en ‘n hormoon-gedrewe tiener: Hanna is ‘n  ouer vrou en gedryf deur ‘n donker verlede vol geheime. Spoedig raak die verhouding seksueel. Deel van die ‘voorspel’ is dat Michael vir Hanna voorlees uit die boeke wat vir hom voorgeskryf is. Vandaar die titel van Bernhard Schlink se Duitse roman, Der Vorleser wat ongelukkig in Engels onvertaalbaar is. So ‘n ongelyke verhouding is egter gedoem tot mislukking: Hanna verdwyn oënskynlik sonder enige redelike motivering uit Michael se lewe.


    Rolprent: Slumdog Millionaire

    Teen dié tyd ken almal die storie. ‘n Jong, halfgeskoolde selfoon-tegnikus uit die krotbuurte van Moembai beland toevallig op die Indiese TV-uitsending van Who wants to be a millionaire. Teen alle verwagting beantwoord hy al die vrae korrek. Hy stap weg met miljoene, ‘n voorbeeld en inspirasie vir almal wat hulself in droewige omstandighede bevind. ‘Valse hoop’, was die fel kritiek van Salman Rushdie. Maar miskien moet ‘n mens hierdie rolprent met sy ‘van-lompe-tot- luukse’-tema in die genre van ‘n sprokie plaas.


    (Bladsy 1 van 2)   
    « Vorige
      
    1
      2  Volgende »