Geskiedenis van OT-eksegese


    (Bladsy 1 van 3)   
    « Vorige
      
    1
      2  3  Volgende »

    Jimmie Loader se besondere kennis van Israel se wysheid het ’n groot invloed op vele van ons se verstaan van boeke soos Spreuke, Job en Prediker gehad. Sy vertrek na Wene in 1997 was daarom in vele opsigte ’n gevoelige slag vir die Suid-Afrikaanse Ou-Testamentiese gemeenskap en ook vir die studie van die wysheid hier te lande. 'n Sjarmante faset van Loader se teologie was sy verinnerliking van Israel se wysheid op so 'n wyse dat dit sy belewing van God, die wêreld, die natuur, die kuns, gekleur het. Dit was amper 'n soort alles-verduidelikende perspektief aan die hand waarvan oor God en sy wêreld gepraat het.


    Geskiedenis van Ou Testament-eksegese, 25: Die beginjare

    Met die wetenskap gaan dit ook maar soos met mense. Dinge gebeur soms net. Sonder dat iemand dit beplan of ryp druk, groei daar 'n nuwe denke omdat die regte mense op die regte tyd en die regte plek is en die regte dinge doen. Soos in 'n vorige aflewering gesê, was daar in die sewentiger en tagtiger jare van die vorige eeu 'n intellektuele oplewing of rewolusie in ons Bybelwetenkap wat alles omgekeer en in nuwe bane gestuur het. Die tyd was reg en die regte mense was op die regte plek sodat dinge kon gebeur. Anders gestel: daar was 'n groot klomp jong en entoesiastiese Bybelwetenskaplikes in akademiese poste wat oorsee studeer het en met enorme ywer die nuwe eksegetiese insigte toegeëien, verinnerlik en in hulle navorsing en onderrig toegepas het.


    Soos die wysheidsleraar hom oor die liefde tussen man en vrou verwonder so is die gange van die wetenskap ook soms ondeurgrondlik. Idees en mense vind mekaar op die regte tyd en dan gebeur daar iets. Iets nuut word gesê, dit boei mense, dit bring hulle in 'n wetenskaplike konteks bymekaar en dit kweek 'n vorm van wetenskapsbeoefening wat oor 'n lang tyd aan andere oorgedra word.


    Die Ou Testament is 'n geskiedenisboek. Dit het in egte lewensomstandighede ontstaan, in verskillende historiese kontekste gegroei en dra die merke van 'n lang groeityd. Verder vertel dit van 'n geskiedenis: God se geskiedenis met Israel, maar wat vanuit Israel se pespektief vertel word. 'n Geskiedenis wat oor en oor vertel en van verskillende kante toegelig is. En as ons hierdie beweging wil verstaan, moet ons die Ou Testament histories verstaan.


    In 1938 skryf Von Rad aan die einde van 'n belangrike studie oor die Heksateug (of eerste ses boeke van Ou Testament) dat dié groot werk oor 'n lang tyd ontstaan en baie mense daaraan meegewerk het. In 'n kursief-gedrukte sin sê hy dan dat geen enkele stadium in die Heksateug se groei en ontwikkeling oorbodig of onnodig was nie. Elke era in hierdie lang ontstaansgeskiedenis het egter 'n eie unieke boodskap gehad wat ons nou nog in die Heksateug kan terugvind (Von Rad 1958:85). En ons moet (deur die teks) hierdie unieke, anderse van elke tyd probeer verstaan. Vir Von Rad was kennis van hierdie wordingsgeskiedenis van die Heksateug dus belangrik; geen verstaan van die Heksateug was daarsonder moontlik nie.


    Miskien kan ek met 'n persoonlike verhaal begin. In die laat-sestigs van die vorige eeu moes UP se Ou Testament-studente in die vyfde jaar met Von Rad worstel. Veral met die eerste volume van sy teologie. Die boek was nie maklik bekombaar nie en die Duits boonop onverstaanbaar. Gelukkig kon ek vir 'n paar dae die Engelse vertaling by die destydse Unisabiblioteek in die Pretoriase middestad te lene kry. En toe ek dit by die toonbank ontvang, maak ek die boek opgewonde oop en begin te lees terwyl ek stadig na my motorfiets toe stap.


    Geen negentiende eeuse Ou Testamentikus het so 'n impak op die Ou-Testamentiese wetenskap van die twintigste eeu as Gunkel gehad nie. Veral die invloed van sy psalmnavorsing word tot vandag toe ervaar (vgl Zenger 2000:399-435).

    Daar is egter iets roerend aan hierdie psalmstudie van Gunkel verbonde. Hy het veral tydens die laaste deel van sy lewe daaraan gewerk, maar dit was 'n tyd van groot finansiële en gesondheidsprobleme. In 1918 het dit so sleg gegaan dat hy hulle ruim woning vir 'n kleiner huis moes verruil. Dit was vir sy vrou en kinders amper traumaties, maar dit kon nie anders nie. En in dié tyd het sy gesondheid so verswak dat hy nie altyd meer hard kon werk nie (Klatt 1969:222).  

    En tog het Gunkel hom met elke greintjie krag aan sy psalmwerk gewy. Aan die begin van 1920 het hy aan sy uitgewer geskryf dat hy selfs onder die moeilikste omstandighede sal voortwerk en iets nuut en groot oor die psalms skryf. Teen Kersfees 1931 kon hy nie meer nie en het die onvoltooide manuskrip van sy Einleitung in die Psalmen aan sy student Joachim Begrich gegee om persklaar te maak (Gunkel 1975:Vorwort). Gunkel is op 11 Maart 1932 oorlede en die inleiding het in 1933 verskyn.


    ‘Hy is gebore, hy het gewerk en toe het hy gesterf’ (Safranski 2000:15). So het Heidegger op 'n dag 'n lesing oor Aristoteles begin. Dit vat die basiese van menswees saam. Tussen gebore word en doodgaan lê daar 'n hele lewe van werk en spel, lewensvreugde en lewensmart. Prediker sou dalk ook nog wou byvoeg: en hieroor het ons geen beheer nie.


    Vanaf Simon, Astruc en De Wette bied die studie van die Pentateug 'n besondere perspektief op die geskiedenis van die Ou Testament se uitleg en verstaan. Deur die Pentateugkritiek verstaan ons iets wat die afgelope twee honderd of wat jaar op die werf van die Ou-Testamentiese wetenskap gebeur het. Dit het soveel insigte ontsluit dat die Pentateugkritiek soms die trots, die blinkende ster van die wetenskaplike studie van die Ou Testament genoem is.

     


    Êrens langs die pad het die band tussen gister en vandag gebreek, en voel ons tot vandag toe die gevolge daarvan in die Ou- (en ook die Nuwe-) Testamentiese wetenskap. Dít het ek weer die afgelope weke tydens lesings met derdejaarstudente in godsdienskunde ervaar. Ons het die verband tussen godsdiens en kuns bespreek en onder andere skilderye van Breughel en Grünewald bestudeer. Breughel se interpretasie van byvoorbeeld Genesis 11 se toringbouers is 'n pragtige stukkie kommentaar op dié gedeelte en as 'n mens dit eenmaal ingedrink het, vergeet jy dit ook nooit nie en word dit 'n soort hermeneutiese sleutel om die verhaal te verklaar. Dit is egter interessant dat die mense in die skildery soos mense in Breughel se tyd lyk, soos hulle aangetrek is en werk. Breughel het die breuk verlede en hede dus nog nie ervaar nie; hy het nog sy tyd as 'n verlenging van die Bybelse tyd gesien; het die Ou Testament in terme van sy eie tyd verstaan, ervaar en geskilder. Eintlik was dit so wonderlik om sonder enige spanning as ‘t ware van die een tyd na die ander te kan stap en die verlede volledig vanuit jou tyd kan snap.


    (Bladsy 1 van 3)   
    « Vorige
      
    1
      2  3  Volgende »