Sias Meyer

 Artikels deur die Outeur

Verdeel en regeer. Oor priesterlike nabootsing van God.

Die eerste Priesterlike skeppingsverhaal in Genesis 1 is wyd bekend en figureer selfs soms in die media as die holruggeryde debat oor skepping en evolusie af en toe weer sy verskyning maak. Hierdie bydrae het niks met hierdie debat te doen nie, maar gaan eerder oor een van werkwoorde wat gebruik word om God se handelinge op dag een (vers 4) en twee (verse 6 en 7) te beskryf. Op dag een skei God tussen lig en donker en op dag twee skei Hy tussen die boonste en die onderste waters. In Hebreeus is dit natuurlik die woord bdl en dit kom later weer in Genesis 1 voor op dag vier (verse 14 en 18) wanneer die ‘ligdraers’ gemaak word en dit is ook die hulle taak om te skei tussen dag en nag. Een van God se vernaamste handelinge in Genesis 1 is dus om orde te skep en om vir elke ding in die skepping ‘n plek te kry. In Genesis 1 is of God, of die goed wat hy maak (soos die uitspansel of die ligdraers) die onderwerpe van hierdie werkwoord. Hierdie klem op orde is natuurlik ʼn tipiese kenmerk van Priesterlike literatuur, of dan in Wellhausen se taal, van die P-bron.


Dieet en verset

Die rein en onrein diere wat in Levitikus 11 gelys word, het al tot baie kopkrappery onder geleerdes (en gewone gelowiges) gelei. Die eerste helfte van die hoofstuk (verse 1 tot 23) kan in drie dele opgedeel word. Verse 1 tot 8 gaan oor viervoetige diere. Verse 9 tot 12 het dit oor waterdiere. Die derde deel (verse 13 tot 23) bespreek alles wat kan vlieg (voëls en insekte). Die tweede deel van die hoofstuk gaan nie so seer oor wat geëet mag word en wat nie, maar oor wat aangeraak mag word en wat nie (behalwe hier en daar vir ʼn vers wat iets herhaal uit die eerste helfte). Die bron van bogenoemde kopkrappery het te doen met die soeke na ʼn rede of ʼn rasionaal vir die feit dat sekere diere geëet mag word en ander nie. Wat het die arme vark byvoorbeeld gesondig om op die lys van verbode diere te kom? Nie dat die vark hierteen sou protesteer nie. Soos Mary Douglas (1999:142) tereg sê: “to be classified unclean ought to be an advantage for the survival of the species.”


Meditatio:Trane van ontnugtering

‘n Mens wonder dikwels hoeveel gelowiges al die moed en krag gehad het om deur die boek Klaagliedere te worstel. Dit is nie ‘n baie lang boek nie, maar net so vyf hoofstukke, maar dit is ‘n uitputtende boek om te lees. Dit mergel jou uit en tap jou energie, want dit is so verskriklik donker. Sommer met die eerste vers al hoor ons van die stad wat verlate is soos ‘n weduwee en die volgende vers vertel van die einste weduwee wat die hele nag deur huil. Trane loop oor haar wange. En so in hierdie trant gaan die boek aan.


Meditatio: God kom sy beloftes na, al lag ons soms daarvoor.

Vers 1 van Genesis 18 vertel vir ons dat die Here “aan Abraham verskyn” het daar by die groot bome van Mamre. In Afrikaans klink hierdie woord “verskyn” vir my asof die Here soort van uit die bloute en totaal onverwags daar sy opwagting gemaak het. Dit was miskien onverwags, maar as ons die vorige hoofstukke lees dan besef ons dat dit nie uit die bloute was nie.