Willie van der Merwe

 Artikels deur die Outeur

Wat het Jerusalem met Athene te make? vra die tweede-eeuse kerkvader Tertullianus. Wat het die Christendom met ’n niechristelike kultuur te make, die openbaring van God met die wysbegeerte van die wêreld (in hierdie geval die Grieke), Christus met Sokrates, die christelike geloof met die menslike verstand, die teologie met die filosofie? Oor vrae soos hierdie gaan dit in die godsdiensfilosofie en die apologetiek. Dit is eeue oue vrae; hulle keer altyd weer terug in die kultuur; hulle het meerdere moontlike antwoorde wat altyd weer betwisbaar is. Hulle antwoorde hang af van wat ’n mens onder godsdiensfilosofie en apologetiek verstaan. As ’n mens godsdiensfilosofie verstaan as die filosofiese kritiek van godsdiens, in hierdie geval die christelike geloof, kry ’n mens één stel antwoorde. As ’n mens godsdiensfilosofie verstaan as die filosofiese inhoud, die wysheidsleer, van die christelike godsdiens, kry ’n mens ’n ander stel antwoorde. As ’n mens apologetiek opvat as die verdediging van die “ware dogma” teen die “aanvegtinge van die pseudofilosofie”, soos Abraham Kuyper, grondlegger van die Vrije Universiteit, gedoen het, kry ’n mens nog ’n ander stel antwoorde. En as ’n mens, daarteenoor, apologetiek opvat as ’n simpatieke verantwoording van die geloof teenoor die ongelowige of die andersgelowige, ’n intellektuele begeleiding van die niegelowige tot op die drumpel van geloof, soos Guus Meuleman, die eerste bekleër van hierdie leerstoel, gedoen het, kry mens nóg ’n ander stel antwoorde!