Christo Lombaard

 Artikels deur die Outeur

Loader: vereer en (net ‘n klein bietjie) ontbloot

Die pasafgelope Woensdag, 9 Junie, is die voorheen Pretoriase, tans Weense Ou Testamentikus Jimmy Loader vereer met ’n huldigingsbundel rondom sy 65ste verjaarsdag.  Die versameling studies is getitel Weisheit und Schöpfung, en het verskyn onder redaksie van Stefan Fischer en Marianne Grohmann (Fischer het vir sewe jaar in Namibië en Lesotho gewerk, het sy eerste proefskrif by Loader aan Unisa geskryf, en het sy tweede proefskrif, oftewel habilitasieskrif, weer onder Loader se leiding voltooi, maar toe by Wenen.)


As openbare godsdiens grief...

Die afgelope weke in die Sunday Times, Rapport en Beeld is berig oor die kwessie tans rondom godsdiensonderrig en –beoefening op skool. Drukgroepe werk naamlik op die oomblik hard vír en téén godsdiens op skool. Ek verstaan die Universiteit van Kaapstad literator Joan Hambidge se gegriefheid in Rapport met ons land se geskiedenis van openbare Christenskap-dwang goed. Eweneens kan ek meevoel met die Stellenbosse filosoof George Claassen, oor wie sy skryf, en ander ateïste, in hulle ongelukkigheid met die manier waarop Christenskap spoel oor hulle kinders in staatskole. Immers, ek is ’n Christen, en ék is erg ongemaklik met baie van die geloofsgoed wat my kinders moet trotseer op skool: die oningeligtheid van onderwysers se uitsprake oor die Bybel; die manier waarop nie-Christen kinders aan die eindjaar-Kersspel deelneem; die godsdiens- en wetenskaponderwysers se gesukkel in die klaskamers en op uitstappies met Genesis 1 versus evolusie.


Resensie: Ná Maanvrug, Weerloos

Die koerante het gegóns. Hier is iets núúts. Voorheen was daar ander openbare rimpelinge oor seksualiteit: “Sexually speaking, with Dr Paul”, op Talk Radio 702, en sy gelyknamige boek; Dr. Agrippa Kathide se praatjies in oorwegend swart kerke en radio- en televisieprogramme; pastoorsvrou Ivy Sutton se veelbesproke gemeentepraatjie met behulp van ’n besemstok; Kleinboer se Rapport-prysboek Kontrei, en die sekstydskrif vir die Christelike Afrilkaanse vrou, Intiem. Maar hier was iets núút: ’n Afrikaanse vrou wat ’n seksboek skryf. G’n hygroman, prikkelend storie-agtig nie; ampers-histories, eerder; ampers-outobiografies. Sy’s gelowig; sy’t tradisioneel-Afrikaans grootgeword; sy’s voorstedelik getroud (die koerante kon nie genoeg maak van die “Garsfonteinse huisvrou” nie); sy skryf onder ’n skuilnaam (tot ’n joernalis onbeholpe haar identiteit uitblaker); vanuit al hierdie doodgewone agtergronde, skryf sy haar seksualiteit óóp... Maanvrug.