Lina Spies

 Artikels deur die Outeur

Verwonding deur polarisasie

Polarisasie en daarmee gepaardgaande geweld is seker dié een ding wat ons in die Nuwe Suid-Afrika die minste nodig het en tog is dit die verskynsel wat ons samelewing tans by uitnemendheid kenmerk. Terwyl ons met ons verskillende identiteite in die huidige periode van transformasie mekaar moet ontmoet in verbondenheid aan ons gemeenskaplike menswees, vind daar polarisasie plaas waar jy dit nie verwag het nie, nl. in die verhouding tussen man en vrou en tussen manlikheid en vroulikheid. Dié polarisasie blyk uit Angus Buchan se mobilisasie van mans onder die vaandel van die “Mighty Men” wat nou sy vroulike pendant gekry het in Gretha Wiid se “Worthy Women”. Albei bewegings berus op die verkondiging van ’n skeefgetrekte, vereenvoudigde en vlak “Bybelse” boodskap vervreem uit hulle kontekste, Genesis 2 en Paulus se brief aan die Efesiërs: die man is die hoof van die vrou en sy moet hom onderdanig wees.


Die sterkte van sagsinnigheid

Ek dink byna daagliks, sedert sy dood in 2000, aan my pa. Dit kan skaars anders, gesien die sterk vormende invloed wat hy op my gehad het en ons geesverwantskap. Sommige van sy standpunte in verband met hedendaagse brandende kwessies in ons onrustige land kan ek net veronderstel, maar daar is andere waaroor ek absolute sekerheid het. Een daarvan is lyfstraf.


Die vertaling van die dagboek van Anne Frank

Prinsengracht 263 verteenwoordig die bekendste gragtehuis in Amsterdam. Die huis dra die naam van die jong skryfster van die beroemdste dagboek uit die Tweede Wêreldoorlog, en wanneer trem 13 of 17 skuins oorkant in die Raadhuisstraat stop, kondig die kondukteur aan: “Westermark, Anne Frank-huis”. In daardie huis op Prinsengracht 263 het Anne haar dagboek geskryf waarvan sy nooit kon droom dat dit na haar ontydige en verskriklike dood wêreldbekend en sy ’n wêreldikoon sou word nie.