1. Inleiding

 

In hierdie bydrae verken ek die rituele of liturgiese landskap in verlede en hede. In hierdie eerste deel kom die verlede onder die loep en in deel 2 die hede. My eksplisiete doel is om ʼn beskrywing te maak van wat ek waarneem met betrekking tot die aktuele uitvoering van liturgiese rituele en op grond van hierdie historiese en hedendaagse waarnemings ʼn bietjie oor die toekoms te spekuleer. Ten einde sistematies te observeer en nie my blik te algemeen te hou nie, word gekonsentreer op:

·         Twee tydperke, te wete (net voor en ook inklusief) die vroeë Middeleeue (ʼn tydperk waaraan Protestantse liturgiste tradisioneel min aandag gee), asook vandag;

·         Rituele/simboliese handelinge;

·         Wat (veral) afspeel op ander plekke as tradisionele liturgiese ruimtes (ek staan dus hier doelbewustelik op die kerkbank en loer by die venster uit om te sien wat daar buite die kerkgebou aangaan);

·         En waarin kruise betrokke is (sodoende kan die rituele handeling darem rofweg as ‘Christelik’ gekwalifiseer word).

Sommige mense sal gou vra nou ‘waarvoor sal so ‘n verkenning kan help?’ James White (1989:213) som dit goed op wanneer hy opmerk: “Much of the future may already be upon us, but we have not yet recognized the signs of our times, as we live amid them”. Hierdie ontwikkelinge stel uitdagings aan die erediens in ons eie dag en dalk ook moontlikhede. Wat presies is dit? Belangrikste nog dink ek is dat ons eerste vraag voordat ons te diep liturgies-teologies wil raak en dinge wil verklaar, eers regtig moet sê: "wat gaan werklik aan”. Nie wat ek as liturgis raai of vermoed aangaan terwyl ek in my studeerkamer besig is met my liturgiewetenskaplike bronne nie, of my waarnemings baseer op my eie erediens-bywoning by my plaaslike gemeente nie, maar om self te gaan kyk en dit te beskryf. Dan eers kan ons as liturgiste werklik sinvol verder dink en praat (dieselfde benadering sou by uitstek sinvol wees rakende liturgie binne kerkgeboue, maar dis ʼn heeltemal aparte studie op sy eie).

Ek val sommer dadelik weg en neem jou na die (veral) vroeë Middeleeue vir ʼn beskrywende verkenning rakende liturgiese rituele, (veral) buite die kerkgebou waarin kruise betrokke was.

 

  1. Die kruis in liturgiese rituele vóór die Reformasie

 

Apostoliese tyd

In hierdie vroeë periode was die kruis vir ʼn lang periode afwesig uit die Christelike en offisiële kuns as gevolg van die uiters negatiewe konnotasie van die kruis in die Romeinse Ryk as ‘n vorm van doodstraf vir kriminele en slawe (cf. Dinkler-Von Schubert, 1999: 734). In die liturgieë uit hierdie periode is daar ook min aanduidings met betrekking tot die liturgiese gebruik van die kruis en die enigste heel vroeë aanduiding was die sogenaamde sphragis of seëling wat na die doop met die konfirmasie plaasgevind. Hierdie seëling was in die vorm van die kruisteken wat met olie op die voorhoof van ‘n neofiet[1] gemaak is (cf. Noakes, 1992: 122; Wepener, 2007: 313, 314).

Justinus Martelaar (†165) maak ook melding van die sogenaamde typos staurou wat gebed met uitgestrekte arms in die vorm van ʼn kruis behels het (cf. Dinkler-Von Schubert, 1999: 735). Hierdie is egter almal voorbeelde van die simboliese maak van kruistekens en nie van vierings binne of buite kerkgeboue, met werklike fisiese kruise nie en ook nie met die gebruikmaking van (dele van) Jesus se oorspronklike kruis nie. Vir sulke voorbeeld moet gewag word vir die vierde eeu.

 

Vanaf die vierde eeu

Die heel eerste historiese aantekening en beskrywing van die kruis wat gebruik word in aanbidding en ook as sodanig vereer word, bied die non Egeria vir ons in haar reisverslag en beskrywing van die Goeie Vrydag liturgie in Jerusalem teen die einde van die vierde eeu waar sy tussen die jare 381-384 n.C. vertoef het (Van Tongeren, 1995:14). Die gebruik van die kruis in Christelike vierings en die ontwikkeling van ʼn regte kruiskultus, het na alle waarskynlikheid in die loop van die 4de eeu ontstaan voorafgaande aan Egeria se besoek aan Jerusalem.

ʼn Belangrike stimulus vir die opkoms van ritualisering wat verbonde is aan die kruis was ʼn openbaring wat keiser Konstantyn gehad het en waarin dit aan hom getoon is dat die kruis die teken van sy oorwinning in die oorlog sal wees. Hy het daarom die kruis, in die vorm van die Christusmonogram of chi-rho (Van Tonrgeren, 1995:14), laat aanbring op die skilde van sy soldate. Konstantyn het inderdaad daarna groot militêre welslae behaal en so het die kruis ‘n belangrike teken van oorwinning geword en het die liturgiese gebruik van die kruis ook in gewildheid toegeneem.

Volgens oorlewering is die kruis van Jesus deur Helena, die moeder van Konstantyn die Grote, in Jerusalem gevind. Hiervolgens sou Helena iewers na 312 n.C. na Jerusalem gereis het om daar die drie kruise te ontdek. In ‘n openbaring is aan haar getoon watter een van die drie kruise Jesus se ware oorspronklike kruis was (cf. Vidal, 1996:36). Van Tongeren dui egter in ‘n grondige studie oor die datering van die kruisvinding aan dat die presiese datum moeilik bepaalbaar is, omdat die bronne problematies is en dikwels apologeties geskryf is. Al die bronne en veranderlikes in ag genome, is hy egter van mening 325 n.C. die mees waarskynlike datum vir die kruisvinding is (Van Tongeren, 1995:28-36). Hierdie kruisvindingslegende was ‘n tweede belangrike stimulus.

‘n Laaste en minder bekende stimulus is opgeteken in ‘n brief aan Konstantyn se seun, Konstantius II, wat hy ontvang het van biskop Cirilius van Jerusalem. Cirilius beskryf aan die keiser in ‘n brief hoe die kruis op ‘n gegewe plek bo-kant die Olyfberg op die derde uur op 7 Mei 351 n.C. die hemel verlig het (Van Tongeren, 1995:14).

Binne hierdie konteks van kruisgebeure in die vierde eeu in Jerusalem het die sogenaamde Fees van die Kruisverheffing ontstaan op 14 September. Dit het saamgeval met die jaarlikse wydingsdiens van die twee kerke in Jerusalem, die Marturium (kerk van die lyding) en Anastasis (kerk van die graf/opstanding). Egeria beskryf die viering van hierdie fees teen die jaar 381 n.C. Tydens hierdie viering het die biskop die kruishoutrelikwie vasgehou, maar was omring deur diakens wat soos lyfwagte moes toesien dat niemand ‘n stuk van die kruishout afbyt nie. Een vir een het die gelowiges dan langs die biskop verby geloop en eers met hulle voorkoppe en daarna met oë aan die hout geraak en laastens ook die kruis gesoen (Van Tongeren, 1995:118). Hier is die rituele wat gekoppel is aan die kruis nog fisies ruimtelik binne die kerkgebou en die amptelike liturgie.

In hierdie periode het stukkies van die oorspronklike kruishout, bekend as kruisrelikwieë, ook begin om hulle weg te vind na regoor die destyds bekende wêreld. So vroeg soos die jaar 402 n.C. het Paulinus van Nola van Melania ‘n relikwie van die kruis ontvang wat sy gekry het van patriarg Johannes in Jerusalem tydens ‘n besoek as pelgrim aan die stad (cf. Harpur, 2002:25). Paulinus stuur op haar beurt ‘n jaar later ‘n stukkie van haar kruisreliek aan Selpicius Severus in Primuliacum in Aquitanië (Van Tongeren, 1995:62-63). Hierdie soort verspreiding van kruisrelieke het voortgeduur sodat daar teen die 6de eeu bewyse van kruisrelikwieë in Rome, Wene, Ravenna, Tours en Poitiers is.

Afgesien van die stukkies kruishout wat self as relikwieë vir liturgiese doeleindes gedien het, het die kruisreliek nou sogenaamde brandea of kontakrelikwieë geïnspireer. Hierdie kontakrelikwieë het bestaan uit olie wat in kontak gebring is met die oorspronklike kruishout deur pelgrims wat na Jerusalem gereis het. Die olie is dan in mooi versierde flessies geplaas en die heilsame krag van die oorspronklike relikwie was sodoende oorgedra op die kontakrelikwie (cf. Van Tongeren, 1995:63).

Pas in die sewende eeu ontstaan daar ook ‘n kruisverering- en verheffingsliturgieë in die Weste, te wete in Rome. Een van die kruisrelikwieë in besit van Rome is vir hierdie doeleindes gebruik. Die ontstaan van hierdie viering het saamgeval met die herowering van die kruisreliek uit die hande van die Perse en die nuwe impetus wat die oorspronklike fees toe in die Ooste ontvang het. As gevolg van hierdie herowering van die gesteelde kruisreliek wou die Christene die kruisrelieke publiek vertoon en vereer (Van Tongeren, 1995:64).

ʼn Interessante gebeurtenis ten opsigte van die liturgie in hierdie tyd en wat saamval met die verdere verspreiding van die fees na die hedendaagse Frankryk, is die pogings van Karel die Grote om ‘n uniforme liturgie in te voer in sy ryk (cf. Stringer, 2005:111-113). Hiervoor het Karel die Grote ‘n versoek aan pous Hadrianus gerig om aan hom die standaard misboek te stuur sodat hy dit kon laat kopieër en regdeur sy ryk versprei met die opdrag dat almal dieselfde ritueel gebruik. Karel het uiteraard politieke motiewe gehad en het die liturgiese uniformering ten dienste van sy eie persoonlike motiewe gestel. Hoe dit ookal sy, vanuit hierdie ontwikkeling het die rituele rakende die kruisverering en kruisverheffing ook vanuit Rome verder Noord versprei.

Daar sou in die lig van hierdie historiese oorsig opgemerk kon word dat die kruis teen die einde van die eerste millenium ‘n belangrike liturgiese voorwerp was. Dikwels was daar nie ‘n kruisreliek of ander belangrike reliek in die nabye omgewing van lidmate nie en gevolglik het pelgrimstogte vir hierdie doeleindes ontstaan. Gelowiges het groot afstande afgelê, hulle het dus na buite beweeg en met behulp van ‘n rituele wandeling weer binne in ‘n kerkgebou ingegaan om naby die gegewe reliek te kom en vieringe daarrondom mee te maak. Hierdie rituele rakende die kruisrelieke het ook ten doel gehad om op ʼn simboliese en rituele wyse die ervaring van ʼn geweldige afstand tussen God en mens te verklein.

Dikwels word minder gunstig oor die liturgie en spiritualiteit van die Middeleeue geoordeel, in baie gevalle met goeie reg ook. In hierdie beskrywende verkenning sal daar egter teen hierdie greine van vooroordeel ingegaan word en ʼn poging aangewend word om ʼn empatiese blik op die gelowiges uit die Vroeë Middeleeue en hulle (vreemde) rituele te werp. Ten einde dit enigsins te kan doen in ons eie dag moet enkele verdere opmerkings gemaak word.

Daar moet eerstens opgemerk word dat die Godsbeeld van mense tydens die Vroeë Middeleeue waarskynlik die van ‘n veraf God was. Vanuit die Fees van die Kruisverheffing kan Van Tongeren self ook heelwat aflei rakende die teologie in hierdie tydvak. Die kruis self was vir die gelowiges die troon van Jesus, die plek waar Hy oorwinning behaal het en waar Hy verhoog is. Vir gewone gelowiges was die identifikasie via hierdie fees met ‘n verhoogde Oorwinnaar aan die kruis. Later onder die invloed van Bernardus en Fransiskus het sake geskuif vanaf die gekruisigde Christus as oorwinnaar oor die dood, na die lydende aardse Christus wat aan die kruis gesterf het. Die identifikasie is nou veel eerder met ‘n lydende Jesus as met die Oorwinnaar in die Laat-Middeleeue (cf. Van Tongeren, 1995: 270, asook Barnard, 2004). In die periode waarop hierdie eerste deel van die twee bydraes fokus, die vroeë Middeleeue, is dit egter steeds die gedagte van oorwinning en ‘n verhewe bykans onbereikbare God en Christus en nog nie die vroomheid van die Man van Smarte soos Wegman (1991:171) die vroomheid van die latere Middeleeue tipeer nie.

Teologies gesproke sou ons kon sê dat God dus in die ervaring van gelowiges ver en moeilik bereikbaar was en dat rituele daarvoor moes kompenseer. Rituele rakende relikwieë en heiliges was deurentyd pogings om God nader aan die mense te bring en om sy teenwoordigheid beter te beleef. Keith Pecklers skryf oor hierdie periode en merk op, “God was considered by many to be too far removed from normal, human experience. Mary and the saints, on the other hand, were far more accessible” (Pecklers, 2003:143). So byvoorbeeld het sekere heiliges ook mettertyd medies begin spesialiseer in byvoorbeeld oogprobleme of rugpyn. Populêre devosies of liturgiese vieringe van gelowiges buite die kerkgeboue en amptelike voorgeskrewe liturgie, soos met die stukkies kruis, was pogings van gelowiges om op ‘n ietwat minder verwyderde vlak met God te kommunikeer, om te soek na waar hulle ‘n genadige God kan vind, selfs al sou dit behels dat die ruimte buite die kerkgebou betree moes word in hierdie soeke. Martin Stringer (2005:150-154) praat in hierdie verband van die demotiese diskoers wat in die laat-Middeleeue onststaan het as reaksie op die belewenis in die vroeë Middeleeue. Hiermee bedoel Stringer dat die kerkvolk, die gewone lidmate, as gevolg van die magswanbalans wat oorheersend in die kerk in die hande van die geestelikes was, inklusief die liturgie (hegemoniese diskoers), hulle eie liturgiese rituele begin bedryf het. Hierdie vieringe van die gewone kerkvolk was pogings om los te kom van die oorheersing en om hulle eerlik uitdrukking te gee aan hulle eie geestelike behoeftes. Die kerk se reaksie was om dit te brandmerk as bygeloof, dit sodoende te verbied en gevolglik die mag te behou.

Sommige van die rituele wat in die verloop van die Middeleeue ontstaan het sou inderdaad gesien kon word as oortredings van die tweede gebod van die tien gebooie (die beelde verbod), maar deurentyd oortredings wat verlang het om Jesus se grootste en eerste gebod na te kom. Dit was vorme van aanbidding wat spontaan ontwikkel het; rituele wat teen die heersende Godskonsepte van hulle tyd in dapper gesondig het. Sommige van hierdie rituele was ook voorbeelde van beswering. Daar was ‘n ander wêreldbeeld en magte van buite was dikwels as bedreigend ervaar. Wegman (1991:165) gee in sy inleiding oor die Middeleeue as tydvak voorbeelde soos die pes en oorloë wat voorgekom het om van die vroeë Middeleeue ‘n duistere tyd te maak.

In die tweede artikel sal die oorbekende liturgiegeskiedenis van die verwording in die laat-Middeleeue gekenmerk deur die verkoop van aflate en wanpraktyke rakende die viering van die Mis en die Reformasie se reaksie asook latere liturgiese reaksies van die Konsilie van Trent gesystap word. Hierdie verkenning word verder geneem in die teenwoordige tyd in Suid-Afrika en die merkers van “handeling”, “binne-buite” en van “kruise” bied weereens leiding.

 

Bronnelys

 

  • Barnard, M. 2004. “Jezus krijgt pas pijn in de dertiende eeuw”, in: A. Oderwald, K. Neuvel, C. Hertogh (reds.). Pijn. Over literatuur en lijden. Utrecht: Uitgeverij De Tijdstroom, 207-215.
  • Dinkler-Von Schubert, E. 1999. “Cross”. in Fahlbusch, E et al (reds.). The Encyclopedia of Christianity. Volume 1 A-D.  Grand Rapids, MI/ Cambridge, UK: W.B. Eerdmans Publishing Company & Leiden/ Boston/ Keulen: Brill, 734-738.
  • Harpur, J. 2002. De heilige weg. 2000 jaar christelijke pelgrimstochten. Haarlem: Schuyt & Co Uitgevers.
  • Noakes, K.W. 1992. “Initiation: From New Testament Times until St Cyprian”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.
  • Osmer, R.R. 2008. Practical Theology. An Introduction. Grand Rapids, MI: W.B. Eerdmans.
  • Pecklers, K. 2003. Worship. New Century Theology. Londen/ New York: Continuum.
  • Stringer, M.D. 2005. A Sociological History of Christain Worship. Cambridge: Cambridge University Press.
  • Van Tongeren, L. 1995. Exaltatio crucis. Het feest van Kruisverheffing en zingeving van het kruis in het Westen tijdens de vroege middeleeuwen. een liturgie-historische studie. TFT-Stiudies 25. Tilburg: Tilburg University Press. (Cf. ook Van Tongeren, L. 2000. Exaltation of the Cross. Toward the Origin of the Feast of the Cross and the Meaning of the Cross in Early Medieval Liturgy. Liturgia Condenda 11. Leuven/ Parys, Sterling, VA: Peeters Pers.)
  • Vidal, J.R. 1996. “Pelgrimage in de christelijke traditie”. Concilium 4, 32-44.
  • Wainwright, G. 1992. “The Periods of Liturgical History”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.
  • Wegman, H.A.J. 1991. Riten en mythen. Liturgie in de geschiedenis van de christendom. Kampen: Uitgeverij Kok.
  • Wepener, C.J. 2007. “Die lang pad van bekering. Deel 1. Die opkoms van die kategumenaat in die Patristieke tyd”. NGTT 48/ 1&2, 307-317.

·         White, J. 1993. A brief history of Christian worship. Nashville: Abingdon Press.

·         Woodward, K. 1990. Making Saints. Londen: Chatto & Windus.



[1] ‘n Neofiet is die tegniese term was verwys na ‘n persoon wat pas gedoop is.