Die Here gee om vir iemand wat verstoot word
- Deur Gerda de Villiers
- Gepubliseer 25 November 2011
- Preekhulp
-
Evaluering:




Gerda de Villiers
Gerda de Villiers se Artikels
‘Is jy nie daarmee tevrede dat jy my man gevat het nie? Wil jy nou nog ook die liefdesappels vat
Bitter, hartseer woorde van Lea. Ons hoor haar verlange na die liefde van haar man, ons hoor die snik in haar stem. Die ‘ander vrou’ is nie maar net ‘n ander nie, sy is ook die man se wettige vrou en boonop haar suster.
Ons lees dat Jakob vir Ragel ‘baie liewer’ gehad het as vir Lea (Gen 29:30). In ‘n samelewing waar poligamie algemeen was en die vrou bittermin sê in die saak gehad het, is so-iets eintlik te wagte. Die Hebreeuse Bybel aanvaar die praktyk, maar gee ook duidelike riglyne dat daar billikheid moet geskied. Byvoorbeeld, die wetgewing in Deuteronomium 21:15-17 beskerm die regte van die kinders van die vrou wie se man haar minder liefhet. Maar, in Lea en Ragel se geval gryp die Here self in. Hy sien Lea se smart raak, omdat sy deur haar man emosioneel verwaarloos word. Hy gee vir Lea kinders, terwyl Ragel kinderloos bly (Gen 29:31).
En nou begin die hartseer – selfs lelike - verhaal van wedywering tussen twee susters. Ragel het die liefde van haar man, maar sy ontbeer moederskap; Lea het kinders, maar ontbeer die liefde van haar man. In hierdie kompetisie waar kinders die punte aanteken, word selfs die slavinne van die twee vroue betrek. Jaloesie verteer Ragel. Die drang na moederskap is groter as wat Jakob se liefde kan bevredig. Daarom gun sy haar suster niks wat haar saak nog ‘n bietjie kan bevorder nie (Gen 30:15). Die twee susters gaan ‘n ruiltransaksie aan: Lea gee vir Ragel die liefdesappels in ruil vir die nag se slaap by Jakob. Ongelukkig vir Ragel het die liefdesappels nie die gewenste uitwerking nie, want hierna word Lea weer keer op keer swanger.
Moet ons Lea se kinders as ‘n seën van Here en Ragel se kinderloosheid as ‘n straf beskou? Nee, beslis nie. Hierdie verhaal wil vir ons iets vertel van die Here se omgee vir die een wat verstoot word. Moederskap, veral om moeder van seuns te wees, was seker die hoogste ideaal wat ‘n vrou in die antieke wêreld kon nastreef. Die Here gee vervulling aan hierdie ideaal, nie Jakob, of liefdesappels nie. Later sien Hy ook Ragel se nood raak en laat haar swanger word (Gen 30:22-23).
Here, die lewe is dikwels onbillik. Help my om gevoelens van naywer en jaloesie te hanteer. Laat my tog ervaar dat U omgee.
Versprei die Woord
3 Reaksies op "Die Here gee om vir iemand wat verstoot word" 
|
se kommentaar op 02 Dec 2011 5:43:10 AM PST
Dank die Vader dat Jesus gesê het "God het julle dit toegelaat weens dei hardheid van julle harte, maar dit is nie hoe Hy dit bedoel het nie."
Wanneer die huweliksband tussen een man en sy een vrou op een of ander manier verwring word deur die sonde (poligamie, owerspel, egskeiding) is die gevolg altyd vernietigend.
|
|
se kommentaar op 05 Dec 2011 11:04:33 PM PST
Baie dankie - het my weer nuwe perspektief gegee.
|
|
se kommentaar op 06 Dec 2011 2:16:51 AM PST
Moet 'n mens dan verstaan dat God hierdie gebruik van poligamie sanksioneer? En dat Hy die kulturele waarde van seuns bo dogters "goedgesind" is? Sal Hy dus vandag in ons kultuur ook ons gebruike en kulturele voorkeure sanksioneer en ons so probeer troos?
|


Author)