- Tuis
- Deur ander se oë
- Spirituele molestering.02
Spirituele molestering.02
- Deur Dawid de Villiers
- Gepubliseer 19 June 2008
- Deur ander se oë
-
Evaluering:




Dawid de Villiers
Dawid de Villiers se Artikels
[Met erkenning aan Tobie van der Westhuizen, Finesse, Maart 2000.]
"Hierdie dienste het my persoonlik baie skade gedoen. My man en kinders was ontwrig. Dit het gevoel of die Here my verlaat het, dat daar niks oor is om voor te lewe nie. Ek voel uitgewerp, want alles is vals. Die liefde van die Here is nie daar verkondig nie. Ek het gedink daar is groot fout met my, omdat ek nie dieselfde kon voel oor al die gebeure as sommige van die gemeentelede en kerkleiers nie." 'n Vrou, na 'n reeks herlewingsdienste in Benoni, gelei deur 'n bekende prediker.
Spirituele molestering vind ook in kerke plaas, en nie net in sektes nie. Tipiese kenmerke daarvan is: soekende mense word met onmenslike, dikwels wettiese eise gekonfronteer; 'n ons-en-julle-gevoel bring polarisasie tussen die 'ons' wat hoë standaarde handhaaf en die ander wat dit nie maak in God se oë nie; die ingewydes sien gesigte, kry openbarings, word genees, behaal sukses, word ryk spirituele juppies en die ander ly versukkelde lewens; die vervuldes het die resep ontdek, die wat in die duister voortploeter, glo nie in wonders nie.
Vervolgens let ons op nog kenmerke en die gevolge van spirituele molestering:
Gebruik van die Bybel
Die Bybel het baie gesag in hierdie kringe. 'n Ouer voorliefde is die inspan van Bybelname en selfs woorde uit die antieke tale, byvoorbeeld: Bet-El, El-Shaddai, El-Elyon, Elim, Deo, Gloria, Doksa, ensovoorts. Die Bybelse en vreemde woorde gee 'n ekstra legimiteit aan die plek of kerk, so asof die 'gees' van die oue herskepbaar is. Hieruit volg dan ook die verletterliking van ou gebruike asof hierdie rituele 'n magiese krag het. Die groot doop en die spreek in tale is klaarblyklik nie meer so gewild nie. Gehoorsaamheid aan ou geskrifte en 'n nadoen van religieuse gebruike het klaarblyklik 'n magiese krag wat op sy beurt prioriteit aan die gelowige voor God bewerk of Hom meer toegeneë stem.
Psigologies is hier moontlik verskeie motiewe in die spel: eerstens, die behoefte aan meer emosie, ervaring en konkreetheid in geloofsbelewenisse; tweedens 'n onblusbare begeerte om tog maar in tel te wees in jou groep, en veral dan in God se groep ook; 'n paniese onsekerheid oor jou lewenslot as geworpene op hierdie aardse jammerdal of 'n mislukte poging om dit te ontken; en dan minder onskuldig, die nimmereindigende drang van die ego om darem 'n beter plek in die rangorde by God te beklee - soos in die woorde van die Fariseër: "Ek dank u, o God, dat ek nie is soos ander mense is nie".
Dit is dikwels vir die leiers van sulke groepe onnodig en ongerieflik om die onstaansgeskiedenis en die unieke aard van elke Bybelboek behoorlik te bestudeer. Daarom neem hulle maklik oningeligte mense op sleeptou met deelwaarhede en absolute stellinge. Ook is daar nie juis waardering vir die groot kloof tussen die toe en nou nie en hoe die betrokke Bybelgedeeltes deur die eeue deur die kerk en/of sektes verstaan is nie. Vandaar die sekerheid byvoorbeeld oor hoe die rol van die man en die rol van die vrou vandag werklik moet wees, presies soos die Bybel ons vertel. Die onstuitbare selfvertroue waarmee die leier die 'waarheid' verkondig, versterk die kiem van onweerlegbare gesag en manipulasie. Veral as daar bygevoeg word: "Dit het die Here self aan my openbaar".
Die ontnugtering
Waar beloftes van liggaamlike genesing, voorspoed en groot geestelike deurbrake of ervarings onvervuld bly, begin ontnugtering. Die ontnugterde mag verwyt word oor haar swak geloof of gebrek aan toewyding. Talle gelowiges beland in 'n neo-wettisisme, soos destyds met die eng en streng preke oor denims en dans. En aangesien daar gewoonlik net positiewe getuienisse deur sulke groepe versprei word, bly die omvang van die ontnugtering verborge.
Spirituele aanranding laat mense glo: Ek is nie goed genoeg nie. Daar skort iets met my geloof. Die Here het my verwerp. Die mens word dus belaai met 'n skuldlas en 'n gevoel van veroordeling en selfverwyt - 'n denkpatroon wat die gelowige van God vervreem. So 'n persoon ervaar dit dikwels as verwerping deur die ingelyfde groep en vereensaam in sy of haar klein hoekie.
In hul boek, The Subtle Power of Spiritual Abuse, skryf David Johnson en Jeff van Vonderen: "Spiritual abuse is the mistreatment of a person who is in need of help, support or greater spiritual empowerment, with the result of weakening, undermining or decreasing that person's spiritual empowerment." Dit is duidelik dat hierdie ervaring nie net tot erge depressie kan lei nie, maar ook tot verwerping van God self.
Predikante en pastore loop ook deur
Predikante en pastore loop ook deur. Een gemeenteleraar skryf: "Met die beriggewing van herlewings oorsee en gepaardgaande verskynsels, ook in ons eie land, voel dit vir my of die Woord van God nie meer genoeg is vir my lidmate nie. Hulle soek wonderwerke, tekens en ervarings. Ek voel soos 'n vrotsige towenaar wat sy werk gaan verloor, omdat hy nie langer die gehoor kan vermaak nie."
Baie predikante brand uit, verlaat die bediening en sommige pleeg selfs selfmoord.
Hoop vir spiritueel aangerandes
Breek met die groep waar jy mishandel word en gaan deur 'n proses waartydens jou denke vernuwe word. Dit is nie altyd maklik nie - elke situasie is uniek. Enroth, Johnson en Van Vonderen is dit eens dat slagoffers vir professionele of pastorale berading moet gaan en dat medegelowiges hulle empaties moet bystaan.
En geestelike leiers: bestudeer die Woord van God behoorlik en wees wakker!
Versprei die Woord
8 Reaksies op "Spirituele molestering.02" 
|
se kommentaar op 19 Jun 2008 3:43:42 PM PST
Dis 'n netjiese stukkie en baie sinvol!
Groete
Chris
|
|
se kommentaar op 19 Jun 2008 6:01:55 PM PST
dankie, ek het lekker gelees maar ongelukkig hartseer geïdentifiseer met die dinge wat hier gesê word. veral studente loop deur, en loop met letsels wat dit amper onmoontlik maak om goed te voel oor die Here se Kerk. dit is soms vir my asof daar onnodig konflik tussen geregtigheid/waarheid en liefde in ons geloof gestel word, en net die ou "softies" sal eerder liefde beoefen, terwyl die hardcore ouens vir geregtigheid staan. ek dink as wat ons sê nie meer goeie nuus is wat vrymaak nie, dan moet ons maar onse monde dig toe hou, want dan is ons nie meer verkondigers van die evangelie nie. dankie weereens
|
|
se kommentaar op 22 Jun 2008 7:41:39 AM PST
So eenvoudig en tog so waar.
Leraars wat hulle uitbrand moet egter leer wat Albert Nolan aanbeveel, en dit is om te kan sê: "Ek weet nie".
|
|
se kommentaar op 26 Jun 2008 2:57:20 AM PST
Ek wonder of iemand bestaan wat nog nooit die slagoffer van spirituele aanranding was nie? My eie verwoede nadenke en lees wat tot volslae ongeloof gelei het, is aan die gang gesit deur dit wat hier verwoord word: "Spirituele aanranding laat mense glo: Ek is nie goed genoeg nie. Daar skort iets met my geloof. Die Here het my verwerp. Die mens word dus belaai met 'n skuldlas en 'n gevoel van veroordeling en selfverwyt - 'n denkpatroon wat die gelowige van God vervreem."
Die hartseerste is dat die slagoffer van spirituele aanranding altyd self die "skuldige" bly. Die stelsel kry reg om homself baie deeglik te beskerm.
Terloops: skep die huidige Mighty Men-beweging nie 'n vrugbare teelaarde vir spirituele molestering nie? My aanvoeling is dat vele van die manne wat so hartroerend by Greytown gaan huil het reeds die gevolge begin ervaar.
|
|
se kommentaar op 11 Jul 2008 8:58:10 AM PST
Ja, my broer. Self was ek nie by MM nie, maar wonder maar as ek hoor van wie daar was wat daar gebeur het en wat gesê is. En die arme vrouens van mans wat daar was wat nou nie meer goed genoeg is nie, want "my vrou is nou nie op dieselfde geestelike vlak as ek wat by MM was nie". Wat van die opdrag van die aartappelboer aan die einde van die Greytown-saamtrek: "Gaan terug na jou gemeente/kerk en laat jou doop". Lyk my ons Afrikaners is "suckers" vir geboelie word - in die ou SA met die totale aanslag of in die kerk met die preke teen dans, Sondagkoerant, ens. "Die dominees moet ons meer slegsê in die kerk, dan voel ons beter as ons uitloop" het ek al gehoor. Om goed te voel oor jouself is, volgens baie, die onvergeeflike sonde. Dis so hartseer. Ons boelie sommer onsself omdat ons nie uit genade kan/wil leef nie.
|
|
se kommentaar op 01 Jul 2008 7:44:15 AM PST
'n Goeie artikel, behalwe dat die gebruik van die woorde "geestelike molestering" en "aanranding" om misbruike (wat deur die ganse bedieningspektrum voorkom) te beskryf my tot onrustige nadenke gedwing het. My eerste gedagte was dat hierdie juis huidiglik "gonswoorde" is en dat mens dan seker ook boeke of artikels kan verwag wat om "volhoubare (geestelike) ontwikkeling" (sustainable development) geweef sal wees.
Aanranding, molestering en verkragting in die fisiese is tog in werklikheid 'n geestelike skending, indringing en ontheiliging; 'n verwonding wat ernstige psigiese letsels nalaat. Die kenmerkende geweld en dwang maak enige vrywillige onderwerping daaraan ondenkbaar.
Die Gees van Heiligheid en die Woord van Waarheid oortuig van sonde; openbaar ongeregtigheid en geestelike onreinheid; roer skuldige gewetes; wederbaar en verander gelowiges radikaal. Tog sou ons nooit die Here se werking en "verwonding" deur sy Liefde as aanranding, molestering en verkragting beskryf nie. As ons wou, sou ons seker 'n goeie saak kon begin bou rondom Saulus se geestelike ervaring waar hy homself hulpeloos en verblind op die grond naby Damaskus bevind het.
Glo ons werklik dat vir díe wat die Here liefhet en na Sy voorneme geroep is, [i]alle[/i] dinge ten goede meewerk, en dat alle dinge [i]niks[/i] uitsluit nie? Moontlik is baie se "seerkry in die kerk" juis 'n nommerpas item op hul regenerasieprogram wat die trots van die lewe op 'n besondere wyse aanspreek.
|
|
se kommentaar op 01 Jul 2008 7:56:01 AM PST
Sjoe dis darem te erg om Mighty M hier aan die hare in te sleep.Het die mann wat daar bygewoon het nie juis 'n stuk bevryding beleef nie? Dis my indruk.
|
|
se kommentaar op 02 Jul 2008 10:04:56 AM PST
Ek stem saam met Mr. Kruger. Ongeag enige fout wat enige iemand vanuit enige hoek oor enige aspek van die Mighty Men-saamtrek mag vind, kan dit nie misgekyk word as 'n geweldige groot geestelike geskiedkundige gebeurtenis nie. In my opinie is dit 'n (volks)kreet (van "epidermiese proporsies") vir geestelike leierskap.
|


Author)