Meditatio: Jesus en die Ou Testament I
- Deur Dirk Human
- Gepubliseer 19 June 2008
- Preekhulp
-
Evaluering:




Dirk Human
Dirk Human se Artikels
Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het… naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en in die psalms oor My geskrywe is (Lukas 24:44)
Die Christelike geloof is ‘n geloof in God waarin die lewe en werk van Jesus Christus sentraal staan. Sonder twyfel getuig die Nuwe-Testament van hierdie belangrike posisie van Jesus.
Wanneer ons na Christus se rol in die Ou Testament vra, verg dit duidelike onderskeiding, sonder om sy belangrike posisie te ontken of enigsins onder te beklemtoon. Die vraag na sy rol in die Ou Testament raak die verhouding tussen Ou- en Nuwe Testament. Beide Testamente is ewe gesaghebbend en dra ewe veel gesag in die Christelike Kerk(e).
Die Nuwe Testament fokus primêr op Christus en erken die gesag van die Joodse ‘Geskrifte’ (Wet, Profete en Geskrifte) deur verskeie Ou-Testamentiese tekste aan te haal. Ander kere pas hulle Ou-Testamentiese tekste op Jesus toe (Heb 1). Wanneer NT tekste, outeurs of Jesus self daarop wys dat: ‘so is vervul wat die Here deur die wet van Moses of die profete of die psalms gesê het’ (vgl Mat 1:22; 2:14), bevestig dié uitspraak ‘n band tussen Jesus en die OT.
Sommige mense verstaan hierdie verwysings as deel van ‘n belofte – vervulling patroon, waarin hulle die Ou-Testamentiese tekste as belofte of voorspellings van Jesus Christus verstaan, terwyl hulle NT tekste as vervulling van dié Ou-Testamentiese belofte(s) sien. Daarom lees hulle die sogenaamde ‘moederbelofte’ (Gen 3:15), verskeie profete uitsprake (bv. die jongvrou wat swanger word in Jes 7:14; lydende kneg-liedere in o.a. Jesaja 53) asook sogenaamde ‘Messiaanse’ psalms/teksgedeeltes (Pss 2; 16; 22; 110 ens.) as voorspellings of vooruitwysings na Christus. Hoe kan ons dié verhouding tussen Jesus en die OT verstaan?
Die NT interpreteer talle OT tekste. Daarmee erken hulle die OT se gesag asook God se werk onder Israel wat in die lewe van Christus herbevestig word. Daarom interpreteer Nuwe-Testamentiese outeurs die OT met Rabbynse en ander eietydse Skrifbeginsels deur daardie tekste op Christus toe te pas. So toon hulle aan hoe die werk van Israel se God deur die lewe en werk van Christus by herhaling ‘n werklikheid word. Christus bevestig God se werk uit die Ou Testament.
Soos God sy groot dade uit Israel se geskiedenis in Jesus kom ‘vervul’ of herbevestig het (Luk 24), bevestig Hy dieselfde krag vandag nog in jou lewe.
Here, dankie dat u God se groot dade uit Israel se geskiedenis in Jesus kom bevestig en weer waar gemaak het.
Versprei die Woord
2 Reaksies op "Meditatio: Jesus en die Ou Testament I" 
|
se kommentaar op 20 Jun 2008 6:41:00 AM PST
Ja ek kan terug kyk en weet ek kan God vorentoe vertrou.
|
|
se kommentaar op 20 Jun 2008 6:59:30 AM PST
Mens kan hierdie artikel uit verskeie hoeke kritiseer. Belangrikste is seker die onkritieke dogmatiese uitsprake hierin: "...bevestig dié uitspraak ‘n band tussen Jesus en die OT." Hierdie stelling is onkrities. Die uitsprake kan nie die band 'bevestig" nie, dit kan bloot aandui dat die NT skrywers Jesus se populariteit wou uitbrei onder mense wat wel die Ou Testament hoog aanskryf. Die uiteinde is dat daar 'n band ontstaan tussen OT en NT. Hierdie band word instand gehou deur mense se eertydse 'mitologiese' wêreldbeeld waarin profetiese voorspellings 'n werklikheid is. Hoe kan ek op grond van hierdie argument as westerse mens hierdie vertrekpunt gebruik. Verder: die belydenis dat OT en NT gelykwaardig beskou behoort te word het gegroei uit 'n apologetiese situasie waarin Jesus, of te meer, Jahwe se mag in gedrang gebring is deur een of ander sogenaamde ketter. Ek kannie sien hoe ons oor hierdie belydenis kan praat buite hierdie apologetiese konteks nie. Ek gee nie om dat mens krities is en dan maar die geloofsprong maak nie, maar om onkrities te wees en dan die geloofsprong aan die einde in die gebed te maak is sonder krag, onnadenkend en verwarrend. Om 'Jesus/Jesusskrywers' te 'verstaan' is dit voldoende om die Ou Testament bloot as 'n historiese geskrif te beskou - maar nou praat ek vir myself.
Groete,
Attie
|


Author)