Ons gee by Universiteit van Johannesburg (UJ), met hierdie prys, erkenning aan die werk wat as die beste skeppende werk uit die vorige jaar geag word. Die keuse van die nege beoordelaars vir die werk uit 2007 was eenparig. Ja, en ons wat hierdie toekenning maak is self bewus van al die gebreke van beoordeling, die probleme met pryse vir kuns. En miskien is prys die verkeerde woord vir die oorhandiging wat ons doen. Eintlik gaan dit immers nie om 'n kompetisie soos die Comrades van eergister nie. Eintlik gaan die UJ-toekenning vir my om iets gans anders. Veral vanaand: Dit is vir my 'n dankie aan die maer man met die groen trui wat nie alleen die landskap van die Afrikaanse poësie radikaal verander het nie. Eers veel later het ek jou gedigte begin lees en al wat ek weet is dat die verbysterende metafore my maniere van dink oor God en kerk en volk en taal en wêreld en identiteit geskuif het. Die wonder van metafore is dat dit mens dinge laat saamdink wat jy nie andersins sou kon nie, dit maak heeltemal ander maniere van kyk moontlik. En omdat jou verse dit al vir 44jaar doen, is die toekenning vir my ook 'n dankiesê vir die dinkmoontlikhede wat die kanteldenke van jou verse vir my moontlik gemaak het.
Commendatio:
Dames en Here, vergun my om u voor te stel aan Breyten Breytenbach,
die maer man met die groen trui; hy is vroom
en stut en hamer sy langwerpige kop om vir u
‘n gedig te fabriseer
Met hierdie woorde het Breyten Breytenbach in 1964 homself in Die ysterkoei moet sweet bekend gestel en daarmee die gang van die Afrikaanse poësie radikaal verlê.
44 jaar later vra ek u vergunning om u voor te stel aan Breyten Breytenbach, vanaand sonder sy groen trui.
In gedig 23 in die tweede afdeling van Die windvanger skryf Breytenbach:
wanneer ek weggeraak het van die werf
so goed gegrond is
dat hoor en sien vergaan
ek lankal gat skoongemaak het
en iemand vra:
by the way
wat het geword van daai
Grootbek Breytenbach?
antwoord dan: hy het gesê
hy gaan nêrens heen
so hy is maar nog
hier iewers hond
Die windvanger bevestig dat Grootbek Breytenbach nog hier iewers (h)rond is. Byna 'n dekade na Papierblom, en boonop 'n dekade waarin baie gebeur het wat dit laat lyk het asof Breytenbach nooit weer sy poësie in Afrikaans gaan publiseer nie, is Breyten nog hier rond.
Op 12 September 2002 het Beeld berig dat Breyten Breytenbach voortaan sy gedigte slegs met "uitgesoektes" gaan deel. Die nuus spruit uit 'n besluit van Breytenbach om nooit weer in Suid-Afrika op te tree of te publiseer nie aangesien daar, soos toe berig is, volgens Breytenbach 'n "onoorbrugbare kommunikasiegaping" tussen hom en Afrikaanse mense ingetree het.
Ten spyte van hierdie enigsins bitter woorde en ten spyte daarvan dat Die Burger se lesers in 'n peiling besluit het dat Breyten nie 'n Afrikaner is nie, ten spyte daarvan dat hy self gesê het dat die taal "asyn aan sy lippe" is en dat hy nie weer wil publiseer nie omdat almal in hierdie land negatief daarop reageer (in gedig 1.4 in Die windvanger sê die dief (digter) vir die vrou en kind: "voorwaar voorwaar ek sê verder vir julle / nou gooi hulle ons nog met skille / binnekort sal dit drolle wees"); ten spyte daarvan het hierdie nuwe blou bundel van die maer man met die groen trui verskyn.
Dit wil lyk asof Breytenbach nie anders kan as om te dig nie. Hy bely in een van die talle verjaarsdagverse dat hy nie die poësie soek nie, maar dat hy as't ware deur die poësie besoek word, dat sy hom verly aan hom torring en vir hom knipoog totdat hy weer die digter se jas opneem:
16 September 2003
ek soek nie skoor nie
hou my hart van gode rein
maar wanneer ek dit die minste verwag –
op straat tussen 'n skare sterwendes
of die eiland met die see teen rotse
'n genadelose geduld
in die oë van die geliefde
wanneer sy oor my buk
met soet vog diep in die sagte mik –
kom die gedig op my af
knipoog, torring
fluister skor geheime van die dood
en teen my beterwete knik die hart
trek ek weer die verbleikte lappiesjas aan
om verby die leefstiltes
na die weglêstilte
te stamel in die geleende taal
Die woordvoël / woordfoël / woordfool / windvanger / dief het weer die lappiesjas aan, verbleik miskien volgens hom, maar hy is met hierdie bundel steeds hier rond met verse wat klink en blink. Hy is steeds besig om verby die leefstiltes na weglêstiltes te stamel. Want juis weglê, vaslê in woorde, is wat die projek van poësieskryf volgens hom behels. Hy skryf immers oor gedigte maak:
gedigte maak kom uit die kanteldenke
van die nagland waar drome vertoef
dis wanneer jy volledig gegroef
deur die ingewikkelde prosesse van vasslaap lê
dat die dieper lyf opstaan om tjoeftjaf te dans
deur maan en waan se landskappe van woorde
mag die hart nog 'n wyle wink en wankel
maak my in godesnaam nog nie wakker!
*****
Oor Die windvanger sou ek wou sê dat dit een van die toeganklikste Breyten-bundels is. 'n Mens sou wel baie prettige ure kon verwyl deur aan te dui hoe hy vroeëre temas en verwysings en toespelings hier herhaal, daarby aansluit, daaraan vervorm. Maar dit is nie noodsaaklik om dit te doen ten einde die bundel te geniet nie.
1. Tyd en poësie
Die eerste van die nege afdelings van die bundel bestaan uit 'n enkele gedig: "daar is geen tyd". Deur die psalm, "Daar is geen land, so ver of woes geleë.." wat in die eerste reël "daar is geen tyd" weerklink, word eintlik sowel tyd as ruimte hier betrek. As daar staan dat daar geen tyd is nie, is daar by implikasie ook nie eintlik ruimte nie.
Die ontkenning van tyd, van die probleem om te definieer wat tyd is, roep iets van Augustinus se Boek XI op waarin hy ook die vraag van wat tyd is probeer beantwoord:
Wat dan is de tijd? Wanneer niemand het mij vraagt, weet ik het; wanneer ik het iemand, op zijn vraag, zou willen uitleggen, weet ik het niet.
Die probleem is, volgens Augustinus, dat tyd nie "iewers" bestaan nie. Slegs hierdie moment bestaan. Die verlede, alles wat hierdie moment voorafgegaan het, bestaan immers nie meer nie. En die moment wat op "nóú" volg, bestaan ook nie. Die verlede is nie meer teenwoordig nie. Die toekoms is nog nie teenwoordig nie. Slegs die teenwoordige bestaan. Tyd as sodaning, bestaan nie. Ons kan tyd net ken aan die veroudering van onsself: In "daar is geen tyd" staan daar:
"tyd is die mens se vel
wat kraak en knetter en krimp
in die verbygaan van lewe"
Hy skryf ook ook:
(tyd is) "in die krul van die blaar
in die duif se vlugtige
fladder-gebaar van grasieuse sterwe"
en:
"tyd is die verskietende komeet
van geheue
wat die hemel met vonke bestrooi
van stories wat niemand ooit
weer sal hoor nie
tyd is my liefde vir jou
die akkedisbewegings
van weggaan in jou vrouelyf
om die holtes te vul
met die vlam van vertel
daardie vele gesigte van vergaan
(…)
en nog bietjie later:
net die leë vertel-vel
van hierdie gedig
bespikkel en uitgemeet
met kankerwoorde van vergeet
soos akkediskak
In die openingsgedig word reeds aangedui dat Breytenbach in hierdie bundel in besonder gemoeid is met tyd, en met die poëtiese ten opsigte van tyd. Ons kan tyd slegs bedink, so het Augustinus geredeneer, omdat ons die vermoë het om nou, in die hede, herinneringe te kan oproep en om verwagtings te kan koester. Slegs omdat ons herinneringe oor die verlede en planne vir die toekoms kan verwoord, kan ons tyd bedink en bespreek.
Ons dink ons meet tyd aan die beweging van hemelliggame – sonop en sononder – maar eintlik gebruik ons tyd om hulle bewegings te beskryf, hulle bewegings bepaal nie tyd nie. Ons praat van 'n lang tyd of kort tyd, maar eintlik is daar net 'n hede. Die verlede en die toekoms bestaan nie "iewers" nie. Ek is nie nou iewers 'n kleuter en elders 'n pensionaris op 'n ander plek, presies soos ek was of gaan wees nie (soos wat dikwels in wetenskapfiksie voorgehu word). Daar is net die hede, die nou, en die verlede en die toekoms bestaan slegs nou in herinnering of in verwagting. Daarom is tyd en ewigheid eintlik dieselfde. Gevolglik skryf Breyten dat tyd "die mens se vel wat kraak en knetter en krimp" is, of in die blaar se krul. Net omdat ons kan onthou dat die vel of die blaar ooit anders was, kan ons tyd bedink.
Juis daarom is tyd "die verskietende komeet van die geheue wat die hemel met vonke bestrooi van stories wat niemand ooit weer sal hoor nie". Ook word die "holtes gevul met die vlam van vertel daardie vele gesigte van vergaan". Uiteindelik is die gedig die "leë vertel-vel" met "kankerwoorde van vergeet". Opvallend is hier dat die woorde "stories" en "vertel" telkens hier in verband gebring word met tyd – dit is deur te vertel, deur stories te maak wat ons 'n geheue kry en waardeur 'n begrip van tyd moontlik word. Die "weglêwoorde" maak dit moontlik om tyd te bedink.
Die gedig as "leë vertel-vel" (die kontaminasie van vertelsel en vel en wat boonop iets oproep van vervel) is dus die manier waarop tyd (wat eintlik nie bestaan nie,) wel gestalte kry – want tyd is immers die "mens se vel wat kraak en knetter en krimp".
Die gedigte in hierdie bundel is gemoeid met herinnering, met die wal gooi teen die verbygaan van tyd. Die gedig word 'n teenwig teen die verganklikheid – al die beelde in die gedig het te doen met verganklikheid – van mens, of duif, of blaar – alles is verganklik – maar verganklikheid is die agtergrond waarteen die hede betekenis kry. Al is die woorde uiteindelik ook so vergeetlik soos akkediskak, onbenullig.
Soos in Krog se Verweerskrif is daar in hierdie bundel ook 'n verset teen die verbygaan van dinge, sonder dieselfde bitterheid en opstandigheid, want vir Breyten is die lewe net "'n kort snik in die keel". Die gedig is dus die manier waarop 'n teenwig teen die verbygaan van dinge geskep word; 'n teenwig deurdat die woorde herinneringe skep. Die poësie word in die eerste gedig reeds as geliefde beskryf, die vrouelyf waarin weggegaan word om die holtes te vul met die vlam van vertel. Die holtes is juis daar omdat die verlede en toekoms afwesig is, holtes is, maar woorde, poësie vul die holtes.
2. Taalfilosofie van die 20ste eeu
Dit is egter nie alleen tyd wat voortdurend afwesig is en gestalte kry in die vertelling, in die woorde van herinnering nie. Poësie is nie slegs teenwig teen verbygaan van tyd nie. Breyten is ook bewus daarvan dat die gedig nodig is as teenwig vir die wêreld van steen en been waartoe ons eintlik geen toegang het anders as deur taal nie. (En daarom het ek aan die begin gesê daar is ook geen ruimte nie.) Hy skryf immers in "deur die nag" (87):
wanneer my geliefde na my toe kom deur die nag
is die strate waar perdekarre klippeklop
om plastieksakke vullis op te tel
soet met frangipanibome se verspreide blomme
oor die keie
wanneer my geliefde na my toe kom deur die nag
dek ek 'n tafel by die venster
met brood en wyn en soet donker vye
en skryf hierdie klein gedig
as teenwig van papier
vir daardie ander een buite van steen en been
wat reis deur die nag
waar donker manne donker perde lei
wanneer my hart na my toe kom deur die nag
eet ons die vye en drink ons die wyn en maak-maak
die liefde soet op die maat van die maan se kliprefrein
In hierdie gedig word duidelik dat Breyten die skryf van 'n gedig as "teenwig" beskou. Dit is 'n teenwig vir die ander wêreld, dié wêreld wat nie taal is nie, "daardie ander een buite van steen en been". Die wêreld van steen en been, van dinge en van mense en van handelinge daar buite, word egter taal. Die wêreld word weergegee in 'n gedig en so word die gedig 'n teenwig vir die reisende, verganklike, verbygaande wêreld. Bes moontlik kan mens verder gaan en omdat die woorde steen en been die idee van 'n klagte oproep – ons kla immers steen en been – kan mens sê die verbygaan, die ontoeganklikheid van die wêreld om ons word betreur en juis daarom het ons die teenwig van papier nodig.) Die gedig is dus 'n teenwig wat 'n oomblik lank kan vasvang. Die teenwig van woorde bly egter iets wat gemaak word (maak-maak). Die onbereikbare wêreld daar buite (donker manne wat donker perde lei), wat verganklik is, (reis deur die nag), word in die gedig nagemaak (maak-maak). Maar eintlik is dit geen namaaksel nie – die wêreld daar buite word tot bestaan gemaak, geskep (die maak-maak is ook juis liefde maak) in taal. Ook die wêreld van steen en been is net metafoor, is reeds "die soet maat van die maan se kliprefrein". En hierdie metafore, hierdie gedigte is teenwig van papier (papier is nie juis die swaarste gewig waarmee mens 'n teenwig kan maak nie) en dit is slegs 'n weergawe wat iets van die reisende verbygaan van alle ervarings vashou.
Soos tyd, is die ervaring van die ganse wêreld, van steen en been en handelinge, iets in die bewussyn, iets wat uiteindelik slegs in taal langer as vir die enkele moment kan bestaan.
3. Vergeefse poësie
In "Gorée-ure 2" word hierdie poging van die digter om teen die verganklikheid 'n teenwig te verskaf deur letters en woorde ook duidelik. Maar ook die vergeefsheid van die poging om iets van die wêreld vas te vang, blyk hier. Die probleem is naamlik dat die gedig of storie, die woordtorinkies, vaspen, iets gestol hou (soos die spykerige jesus van jare gelede gejanfiskaal is) en omdat woorde vaslê en stol, skiet dit tekort om die "vlamboom se oranje vuur vas te hou". Die poging om poësie te maak is om "'n fuik vol spartelende geverfde voëltjies" te smous, terwyl alle lewe "hier en nou" is (134).
Hierom is metafore so sentraal in Breyten se werk. Deur die saamdink van uiteenlopende sake, word iets meer van die aard van bewussyn duidelik, word iets in 'n moment verhelder wat selde agterhaal kan word. 'n Soort verheldering wat deur die metafoor moontlik gemaak word sodat daar kortstondig begryp kan word.
Die groot krag van Breyten Breytenbach se poësie is sekerlik gesetel in die buitengewone metafore wat deurgaans in sy werk voorkom. Sommige van hierdie metafore kan 'n mens dalk daaraan toeskryf dat hy nie slegs digter is nie, maar ook skilder. In Die windvanger skryf hy self oor hierdie verband: "wanneer die mond 'n hand is / en die tong kwas / kwistig en kras / oor die teks tuur van beelding…" (49).
En al skryf hy self dat hy nie meer (as ou man) metafore nog "kaalvuis uit 'n hoed kan pluk nie", is dit juis met metafore wat sy poësie boei:
die goëltoertjie
dis nie waar dat 'n ou man
nog poësie kan skryf nie –
iets is daarmee heen –
miskien die soepelheid om
soos 'n vars verslyn te buig
en jou eie skoenveters vas te kan maak /
of die voortvarendheid
om kaalvuis 'n verwronge metafoor
uit die hoed te pluk –
nog duiselig van die buk
sê jy dan die maan is 'n gedagte
en die gedig al sedert jare
'n dooie oogverblinde haas
Die "vreemdheid" van 'n metafoor waarin die maan 'n gedagte is en die gedig 'n dooie oogverblinde haas, dwing nie alleen die leser se verbeelding om bollemakiese te slaan nie, 'n mens raak juis daarvan bewus dat al ons gebruik van taal eintlik op metafore berus. Telkens herinner die metafore daaraan dat elke woord eintlik 'n metafoor is, en dat ons dit dikwels vergeet en begin dink dat ons 'n houvas op die werklikheid kry deur taal. Breytenbach se metafore lê bloot hoe broos so 'n houvas eintlik is. Kyk byvoorbeeld na hierdie uittreksel uit die gedig "die woorde in die vers":
af en toe diep ek nog die woorddosie op –
stof dit af –
die deksel is 'n spieël vol skaduwees
soos geboortevlekke
maak dit oop
met die innige doel
dat herinnerings mag spoel
sodat beentjies vertel
van die vlees van plekke
waar ek miskien geloop het
in my hand uitgeskud
gloei die inhoud 'n taal –
ek pak hulle uit –
behoud volg op bloei en dan
die klank aarde
wat die dood in sal sluk –
aans groei uit die spel 'n verhaal
van duisternis wat gloei in die buurt van lig
en die gedig wat betekenis soos 'n gesig verbeel –
die hart vergestalt haar eie raaisel –
in my moeder se mond is ek weer jonk
genoeg getong om 'n berg te uiter
en te sê die see het 'n rand van begeerte
en lewe is lewe tot aan die land van vergaan
waar die hand in die as nog skrywerig sal bewe –
Reeds die eerste strofe is só volgepak van betekenismoontlikhede dat 'n mens duisel wanneer jy daaroor begin nadink. Om te dig (maar eintlik ook gewoon om taal te gebruik) is om die "woorddosie" oop te maak en in mens se hand "uit te skud". Die woorde wat soos beentjies uit die dosie val ('n dosie wat herinner aan 'n urne waarin die as/oorblyfsels van 'n dooie gehou word) maak herinneringe moontlik. Die teenwoordige beentjies herinner aan die afwesige vlees. Taal is altyd aan die verwys na die afwesige (soos lewe altyd dui op die dood).
Veral wanneer die woorde begin "gloei" in die hand van die digter word die aard van metafore en taal gedemonstreer. Uit die "spel" met die woorde groei daar aanstons 'n verhaal. Hierdie vertelling wat groei uit die rangskikking van woorde bly egter 'n "verhaal van duisternis" wat slegs kom in "die buurt van lig". Met taal, met al die woorde, kan ons nooit die werklikheid vasvat nie, kan ons nie die waarheid vaspen nie. Die verhaal, taal, kan hoogstens in "die buurt van lig" kom. (Die beeld herinner ook aan Van Wyk Louw se betekenis wat flikker om die duister woorde.) Ingeslyks kan die gedig ook slegs betekenis verbeel. Soos wat 'n mens se gesig geen direkte toegang tot sy/haar hart kan bied nie, kan die gedig, kan taal, nie tot die hart van die werklikheid, van waarheid, van ervarings deurdring nie. Die hart van alles bly 'n raaisel, die betekenis kan slegs verbeel word.
Nietemin is die taal al wat ons het en kan selfs 'n berg ge-uiter word (vir Breytenbach is dit betekenisvol dat dit juis sy moedertaal is waarin hy 'n berg uiter). Steeds bly die uiting egter ongenoegsaam, onvoldoende om volledig uit te druk. Die begeerte om meer vas te vang in taal bly, maar taal druk hoogstens die randjie van hierdie begeerte uit.
Tot aan die einde van die lewe – teenaan die land van vergaan – wanneer die hand reeds in die as geslaan is, kan die hand nie anders nie as om te skryf nie. Al word ons pogings om in taal vas te vat, om te begryp, telkens gefnuik, al kan ons woorde ons slegs in die buurt van lig bring en nooit by die hart nie, kan ons nie anders as om in taal, wat metafoor is, "'n oomblik van die ewigheid" te probeer vasvat nie.
Dat Breyten se hand nog skrywerig bly bewe, byna 'n dekade na die verskyning van Papierblom, maak dit steeds vir ons moontlik om onder meer iets van die aard van taal en ons bestaan in 'n wêreld wat deur taal gekonstrueer word, te verbeel.
Om te verstaan wat met ons gebeur in die voortdurende verbygaan van tyd, in die nimmereindigende reis en ontglipping van die moment, is die enigste manier waarop ons kan betekenis gee aan ons bestaan, ons hoogs verganklike bestaan, om taal in te span.
2.14
skilletjie lig groei om die klipskip in die ruim
wanneer son en maan om ons synsoeke tuimel:
omdat ons geanker is aan die groot vergeet
het ons tyd bedink
asof vergaan nie reeds ingeboek staan in ontstaan:
en van siklusse en ritmes 'n bedoeling gemaak
die heelal getjap met betekenis
ek is twee-en-sestig jaar oud
in die koue wond van geboorte
Tyd is dus bedink omdat alles verganklik is, verbygaan. Tyd is 'n konsep waarmee aan siklusse en ritmes (die sonsopkoms en ondergang, die beweging van hemelliggame, die gang van die seisoene) betekenis gegee word. Deur die konsep van tyd, word die "heelal getjap met betekenis". Tyd bestaan vir ons, die betekenisgewers, die interpreterende wesens, diegene met 'n selfbewussyn. Ons is as mense bewus van ons dood reeds by geboorte (die ou formulier het gepraat van die lewe as niks anders nie as 'n gestadigde dood).
Ons wat so probeer om alles met betekenis te tjap, om te verstaan, om wal te gooi, word deur hierdie woorde en teenwigte vervreem. Die volgende strofe lui:
buite flankeer vlinders en voëls
doenig met hulle eie besighede
sonder die minste vlerkslag van vervreemding
binne skuifel die hand oor papier
op soek na die hier
wat flus nog uit die niet gestulp het:
hier's ek weer
hier's ek weer
met my bloedsleep voor jou deur
Daar bly dus net aanmekaar uit die niet, nog hedes opdoem. En elke hede onstnap dadelik want dit is reeds verby as ons daaroor dink, as ons dit probeer vasskryf:
ons skrywel ons dae dig met ballingink
totdat hulle donker soos die ewigheid is
en ook wanneer ons niks meer het om te sê
bly daar nog woorde oor
besig met hulle doenighede
4. Reis
Reis is soos altyd in Breyten se poësie belangrik. In die eerste vers reeds suggereer die "daar is geen tyd" ander lande. En reise daarheen is reise deur tyd, deur 'n opeenvolging van hedes wat flus verskyn het (hier's ek weer, hier's ek weer). Mens is nooit meer op dieselfde plek of in dieselfde tyd nie. Daarom ook die kamiljoen, die baie identiteite al die aliasse, die verskuiwings waarvoor Breyten se werk bekend is. In die laaste gedig in die bundel, "die laaste gedagte", word die "ek" opnuut verwoord:
Die ek is 'n ineenstortende samestelling wat oopgaan op 'n beierende
niet van waar 'n gewaarwording gebore word wat afhanklik is van 'ek'
om tot 'n wete te kom
Die voortdurende op reis wees bring ook vervreemding mee. In "Aan boord stap" (85) skryf hy:
'n Reuse-albino met wye tande
het my paspoort gekontroleer:
"U praat Frans met 'n aksent, meneer?"
"Ek praat alle tale met 'n aksent, meneer."
[Vervolg bladsy 2]
Sentraal in die bundel is die bewussyn van die verbygaan van dinge, die vlietende hede, van ons onvermoë om tyd te verstaan en ewigheid. Daarmee kom ook die onvermoë om onsself te ken en verstaan – die self is immers 'n "ineenstortende samestelling wat oopgaan op 'n beierende niet van waar 'n gewaarwording gebore word wat afhanklik is van 'ek' om tot 'n wete te kom"
Om egter van hierdie gewaarwording tot 'n wete te kom is die "gedigdink" daar. Soos 'n geliefde, waarvoor hy telkens wag, kom die moment na hom en in daardie vang van die metafoor, in die liefde-maak met die woordtorinkies, word die holtes gevul en kan tyd deur die vertelvel momenteel gevang word (soos om wind te ving). Steeds skuiwend, soos alle metafore juis nie vas is nie. En daarom laat dit meer reg geskied aan ons beskrywings van die wêreld van steen en been, al skiet dit te kort om die flikkering van die vlam vas te vang.
* * * *
Ons gee by UJ, met hierdie prys, erkenning aan die werk wat as die beste skeppende werk uit die vorige jaar geag word. Die keuse van die nege beoordelaars vir die werk uit 2007 was eenparig. Ja, en ons wat hierdie toekenning maak is self bewus van al die gebreke van beoordeling, die probleme met pryse vir kuns. En miskien is prys die verkeerde woord vir die oorhandiging wat ons doen. Eintlik gaan dit immers nie om 'n kompetisie soos die Comrades van eergister nie. Eintlik gaan die UJ-toekenning vir my om iets gans anders. Veral vanaand: Dit is vir my 'n dankie aan die maer man met die groen trui wat nie alleen die landskap van die Afrikaanse poësie radikaal verander het nie, maar wat my lewe radikaal beïnvloed het. Ek onthou hoe ek as skoollaaitie by familielede TV gaan kyk het omdat ons nie een gehad het nie. Ek het gegaan om na Haas Das te gaan kyk maar het langer gebly en op die nuus verneem van 'n digter se hofsaak. Eers veel later het ek jou gedigte begin lees en al wat ek weet is dat die verbysterende metafore my maniere van dink oor god en kerk en volk en taal en wêreld en identiteit geskuif het. Die wonder van metafore is dat dit mens dinge laat saamdink wat jy nie andersins sou kon nie, dit maak heeltemal ander maniere van kyk moontlik. En omdat jou verse dit al vir 44jaar doen, is die toekenning vir my ook 'n dankiesê vir die dinkmoontlikhede wat die kanteldenke van jou verse vir my moontlik gemaak het.
Dames en here, Kyk, hy is onskadelik, wees hom genadig.
Bronnelys
Augustinus' Belijdenissen. 1940. Vertaling en Inlijding van Dr. A. Sizoo. Delft: Naamloze Vennootskap W.D. Meinema.