Christenskap is ‘n keuse teen mag
- Deur Julian Müller
- Gepubliseer 26 January 2010
- Preekhulp
-
Evaluering:




Julian Müller
Julian Müller se Artikels
Teks: Matteus 2:16-18
[Preek gelewer op 3 Januarie 2010 te Nature’s Valley]
Verlede Dinsdag, 29 Desember was dit die dag waarop in sommige kerke nagedink word oor “Die kindermoord” van Herodes. Die plek en betekenis wat hierdie grusame verhaal in die geskiedenis van die Christelike kerk gekry het, is heel interessant:
In die Bizantynse Liturgie in Konstantinopel (Oosterse Kerk) word verwys na die 14000 Holy Innocents. In die Siriese Kerk word verwys na die 64000 onskuldige suigelinge wat vermoor is. En in die Koptiese Kerk het die getal aangegroei na 144000.
Die arbitrêre wyse waarop daar met die getalle omgegaan word, is alreeds ‘n aanduiding dat daar oor die historiese feitelikheid van hierdie verhaal heelwat onsekerheid bestaan. Daar word gewonder of hierdie kindermoord deur Herodes ooit plaasgevind het. Dit is vreemd dat Matteus die enigste evangelie is wat daarvan melding maak en dit is ook vreemd dat daar geen buite-Bybelse bronne is wat dit bevestig nie. Die geskiedenis van die Herodesse is goed opgeteken – Herodes die Grote was die bekendste, maar ook Herodes Antipas, aan wie hierdie kindermoord toegeskryf word. Josephus, die Joodse geskiedskrywer het hierdie tyd redelik volledig opgeteken. Geskiedkundiges vind dit vreemd dat in die Bybel slegs een evangelie daarvan melding maak en dat dit nie in buite-Bybelse bronne van die tyd vermeld word nie.
Maar of dit nou op historiese voete staan of nie, die insluiting van hierdie verhaal in die Matteus-evangelie is baie betekenisvol. Matteus skryf sy evangelie vir ‘n Joodse gehoor met die duidelike doel om aan te dui dat die Jesus-verhaal verstaan en interpreteer moet word in die lig van Eksodus-verhaal. Hy probeer aan sy lesers verduidelik dat Jesus ‘n verlosser is soos Moses. Dat soos wat God die volk uit Egipte verlos het en daarvoor ‘n kindjie uit die waters van die Nyl te voorskyn laat kom het, Hy dit nou weer doen deur hierdie Kindjie wat uit Egipte te voorskyn kom. En elke keer onder dieselfde wolk van ‘n kindermoord. Ons lees in Eksodus 1:22 van die farao se opdrag: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”
Die Farao Moses-konflik van Eksodus, word hier in Matteus die Herodes Jesus-konflik. Dieselfde tema van mag en daarteenoor verlossing wat uit die onverwagte en magtelose oord te voorskyn kom, is in albei verhale duidelik te sien.
Dus, afgesien van die historiese feitelikheid wat miskien op losse skroewe staan, is daar ‘n baie duidelike teologiese betekenis in hierdie verhaal te vind.
Die boodskap word op ‘n baie duidelike en treffende manier uitgebeeld in ‘n skildery van Cornelis van
As Cornelis hierdie teks reg interpreteer (wat ek dink hy doen) dan beteken dit dat wat Matteus hier in ons gesigte gooi, is die kontras tussen die mag van Herodes en die magteloosheid van Jesus.
Waarom doen Matteus dit? Hy verkondig aan ons die doelbewuste prysgawe van mag, wat ons in die Jesusverhaal kry, teenoor die doelbewuste gryp na mag en misbruik van mag, wat ons in die Herodesverhaal vind.
Die arm kind wat in die agterplaas gebore is en wat in die nag inderhaas Egipte toe geneem word, die vlugtelingkind, staan in skrille kontras met die gevestigde politieke mag, met Herodes wat tot elke prys die mag moet behou.
Hierdie verhaal plaas ons voor die harde werklikheid van die kersboodskap. In teenstelling met die soms sentimentele boodskap oor die onskuldige kindjie met die stralekransie wat so soetsappig aangebied word.
Hierdie boodskap bring ons vierkantig voor die werklikheid van mag en magsmisbruik in die wêreld waarin ons leef.
Die natuurlike ding vir elkeen van ons is om die magsposisie wat ons op een of ander wyse gekry het, te behou. Niemand is bereid om mag af te staan nie want dit is lekker om in beheer te wees. Daar is niemand wat sal kies om ‘n vlugteling te wees, as jy ‘n veilige plekkie in Herodes se paleis
Antjie Krogh se boek het die titel “Begging to be black” en dit is duidelik deel van die konteks van die getuienisse wat voor die Waarheids- en Versoeningskommissie gelewer is, waar sy ‘n skaamte ontwikkel het vir haar mense, die wit mense se vergrype. Maar daar is eintlik niemand wat wit is, wat smeek om swart te wees nie, want daar is meer mag in wit wees. So wil geen man werklik ‘n vrou wees nie, want daar is meer mag in man wees. Volwassenes verlang soms na die ongebondenheid van kind en tiener wees, maar beslis nie na die magteloosheid daarvan nie. En so
Dit wat ek u nou vertel het, is maar ‘n ander weergawe van die Herodesverhaal. Dit is die verhaal van mag wat behou moet word – selfs soms met uiterste maatreëls.
Die moeilikheid met mag is tweeledig:
· As jy dit het, word dit as ‘n vanselfsprekendheid aanvaar. Jy bevraagteken dit nie. Jy trek dit aan soos klere wat nog altyd joune was en wat jou goed pas. Jy verknies jou nie vreeslik oor ‘n magsposisie nie, jy groei daarin en lewe daarvolgens.
· Tweedens is dit verslawend. Dit is so lekker om mag te hê. Niemand wil dit prysgee nie en ons klou verbete vas aan ons posisies. Kyk maar net na jou kinders of kleinkinders om te sien hoe moeilik dit is vir ‘n oudste en enigste kind om ewe skielik ‘n boetie of ‘n sussie te kry. Vooraf word daar vreeslik uitgesien na die nuwe aankomeling, maar as dit gebeur dan word dit ‘n magstryd.
Daarteenoor, het ons baie slim maniere ontwikkel om die magsbalanse wat daar is in stand te hou en te beskerm.
Die resep wat ons het vir die behoud van ons magsposisies is eenvoudig, maar baie effektief:
1. Ontken die probleem of minimaliseer dit. Dan sê ons dinge soos:
a. “Ons probleem is nie rassisme nie, dis regstellende aksie.”
b. “Ek wens ek was ‘n swart vrou in die Nuwe Suid-Afrika, want dan het al die deure net oopgegaan.”
2. Plaas die blaam op die slagoffer. Dan maak ons opmerkings soos:
a. “As swartes net harder wou werk en ‘n goeie opvoeding wou kry, sou ons ‘n wonderlike land hê.”
b. “As vrouens ook net minder uitdagende klere wil aantrek, sal daar minder verkragtings wees.”
3. Noem dit iets anders
a. So word geslagsongelykheid afgemaak as die aangebore stryd tussen die geslagte.
b. Die storie van die man wat die jagter is en die vrou die een wat bymekaar maak, is ook ‘n lekker een om geslagsongelykheid te omseil.
4. Dis beter so
a. Waar sou ons gewees het as daar nie apartheid was nie?
b. Vroue wil graag onderdanig wees en die sterk man in hulle lewens aanbid.
c. “Die kerkraad
Hierdie is maar ‘n paar voorbeelde van die baie slim maniere wat ons het om die probleem van magsmisbruik van onsself af weg te stoot. Ons ontken dit, ons maak dit ander se probleem, ons haal ons skouers op en sê dis nou maar eenmaal hoe die lewe is.
My bedoeling met vanoggend se preek is nie maar net om u met ‘n paar skuldgevoelens weg te stuur nie. Ek dink ons word almal deur hierdie verhaal aan die begin van die Matteusevangelie, aan die begin van ons jaar gekonfronteer met ‘n eenvoudige vraag: Volgens watter een van hierdie verhale gaan ek my lewe inrig?
Die natuurlike uitweg is om maar saam te gaan met “the powers that be”. Dis die weg van die minste weerstand en in lyn met die natuurlike vloei van dinge.
Die evangelie maak dit duidelik dat die weg wat God kies en wil hê ons moet kies, is die ánder een. Die weg van die doelbewuste prysgee van mag, die weg van doelbewuste bemagtiging van die wat uitgestoot word na die rante van die samelewing.
Hierdie stukkie brutaliteit aan die begin van die Matteusevangelie herinner ons daaraan dat ons evangelie dikwels maar ‘n flou, afgewaterde, makgemaakte, verhuislikte evangelie is, ‘n “evangelie” wat ons toelaat om al die misbruike van mag maar weg te praat en goed te praat en daarmee saam te lewe.
‘n Keuse vir die Kindjie in die agterplaas, is ‘n keuse téén Herodes in sy paleis. ‘n Keuse vir Jesus en sy evangelie is ‘n keuse teen elke oorheersende en onderdrukkende magsisteem. Dit vra standpuntinname teen die populêre tendense.
Mag ons as individuele gelowiges, ons as gesinne, ons as kerk, die Christendom, daarvoor genade kry in 2010!
Liturgie
Votum:
In die naam van die God wat as ‘n Kind in ons wêreld ingekom het…
Seëngroet:
God
Loflied:
Lied 525: 1, 3.
Epiklese-gebed - Jeanette Ferreira se gebed:
onse vader
gee my vandag my daaglikse self
want daarvan sal ek leef
en bly word
oor lou dae rokende winterson
en ‘n plat veld blonde gras
oor die kantel van my sagte kitaar
en juig van soet psalms van die woord
oor sondag se pynlike dun wind
wat deur die hoë gepypte dwaal
oor ‘n naam wat rol soos ‘n helderrooi bal
in die dun bruin steeg voor my treurige deur
oor die self wat alleen geword het
en daarmee vrede het
Slotgebed:
In die teks van vanoggend en in die preek, hoor ons die apostel Paulus met ons praat in Filippense (2:5-11):
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het , het Hy homself verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja , die dood van die kruis.
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” Tot eer van God die Vader
So bid ons hier aan die begin van die jaar dat ons ook vanjaar ons hoogste eer sal soek deur onsself te verneder. Wees ons daarin genadig!
Amen
Slotlied:
Lied 280:1,2,3.
Versprei die Woord
4 Reaksies op "Christenskap is ‘n keuse teen mag" 
|
se kommentaar op 29 Jan 2010 5:41:34 AM PST
Puik preek en erediens. Opreg dankie daarvoor. Mag ek egter in alle beskeidenheid vra hoe dit te rym is met 'n jaar gelede se artikel oor die "ruimtereisiger-god" en die keuse teen teïsme vir panenteïsme ? As God in alles/almal is, is Hy mos ook op diesefde wyse in Herodus en in Hitler en in Stalin en in Mugabe, of hoe dan ? As paneteïsme egter by Julian verlede tyd is, trek ek my kritiek onvoorwaardelik, met apologie en met vreugde terug
|
|
se kommentaar op 02 Feb 2010 11:27:07 PM PST
Andries, net die een en andere rondom jou opmerking oor panenteïsme. Ek wil nie graag in meer besonderhede hier ingaan oor die begrip panenteïsme nie. Daar is baie literatuur daaroor beskikbaar. Kortliks, panenteïsme word begryp (inderwaarheid) as: Alles (pan) in (en) God (theos of teïs). Anders gestel: God is groter as alles. Omdat God groter is as alles, is alles mos in God. Lees jy die woord van agter af lees jy: God in alles. Alles is nie net in God nie, God is ook in alles, omdat God groter is alles. Hierdie in alles beteken nou nie dat God die oorsaak is van alles wat gebeur nie. Alhoewel God die bron (die spark) in alles is is God nie die oorsaak van alles wat gebeur in ons lewens of in die natuur nie. Alle lyding en dood wat nie veroorsaak is deur siektes of natuurlike oorsake nie, is mensgemaak. Dis die gevolg van menslike behoeftes, drange, belange en begeertes wat manefisteer in sosiale strukture, politieke strukture en kulturele strukture.
Groete!
|
|
se kommentaar op 31 Jan 2010 9:05:27 PM PST
Ek stem saam met Andries Louw in sy evaluering. Die wonderlikste dinge vloei soms uit Julian se pen en preke. Wat egter verwar, is sy soms vreemde standpunte ( wat ek nie nou weer wil heropen nie) wat baie kere lesers totaal verwar.
Hierdie preek, as dit geestelik gelees word, raak ook my eie lewe en daarom bou ek dit in my geleefde ervaring in- dankie daarvoor. Wat ek egter nie kan verstaan nie,is waarom hy verwarring by baie lesers genereer om die verhaal van Mattheus weer in historiese konteks verdag te maak. As dit binne die ruimte van die historiese-kritiek waar is, moenie lesers verwar nie. Ek glo dat die besondersheid van die preek nie daardeur afgebreek sou word nie- inteendeel. ( al was sy opmerking oor die verhaal reg).
Nogtans is die preek 'n stukkie spiritualiteits rykdom, spesifiek in 'n gewelds- gemeenskap soos Suid Afrika .
|
|
se kommentaar op 09 Feb 2010 5:43:38 AM PST
Die preek is waarlik kreatief – so kreatief dat ek dit met moeite met die Mattheus Evangelie kan vereenselwig.
Jullian Müller se idees laat my dink aan díe van die Amerikaanse Roomse priester, Raymond E Brown, wat ook uitgegaan het van die standpunt dat die Bybel vol historiese foute mag wees solank dit nie ons redding beïnvloed nie. Hy bring dit ook in verband met die Moses verhaal en dat die ooreenkoms geredelik deur ‘n Joodse gehoor aanvaar en verstaan sou word.
Maar die Moses verhaal en uittog saga word óók deur baie geleerdes bevraagteken – ook as gevolg van die gebrek aan bewyse buite Bybel. Een mite bou op ‘n ander mite – of wat.
Ander geleerdes, egter, verdedig Herodus se optrede omdat ons wel weet dat hy uitermatig wreedaardig was. Josefus beskryf hoe Herodus sy eie twee seuns (as jong mans) laat vermoor het. (Josephus, The Jewish War I.535–7 en Jewish Antiquities 16.121–7, 356.) Hy het nie geskroom om sy politieke teenstanders uit te wis nie (Josephus, Antiquities 15.2. ) Francis Bear wys ook daarop dat Herodus uiermatig geweldadig was (Francis Wright Beare, The Gospel According to Matthew, Camelot Press, Southampton, 1981.) "Cruel as the slaughter may appear to us, it disappears among the cruelties of Herod. It cannot, then, surprise us that history does not speak of it" (Maas, "Life of Christ" (1897), p. 38)
Hoe dit ookal sy – slegs dít wat vanuit ander bronne buite die Bybel bewys kan word, word deur manne soos die as ‘evangelie’ aanvaar.
Nee wat. Dit is maar net nog ‘n poging om te verwar.
En wat beteken díe:- “God kan hier wees vanoggend: Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer. Mag ons God se teenwoordigheid ervaar.”?
Hang God se teenwoordigheid deesdae af van menslike emosies? Moet ons nou twyfel of God nog teenwoordig is waar twee of drie in Sy naam vergader ook?
|


Author)