- Tuis
- @ die Fakulteit
- Apartheid in Kerk en in Politiek
Apartheid in Kerk en in Politiek
- Deur Johan Buitendag
- Gepubliseer 12 March 2009
- @ die Fakulteit
-
Evaluering:




Johan Buitendag
Johan Buitendag se Artikels
Inleiding
’n Oomblik van waarheid word ongevraagd deur die Heilige Gees in gelowiges se harte gelê. Dit gebeur wanneer die appèl van die evangelie onweerstaanbaar op die kind van die Here inwerk. As predikante en teoloë van die NHKA het daardie oomblik vir ons aangebreek. Ons
Die lang pad
Die afgelope Vrydag het lede van die uitvoerende bestuur van die Wêreldbond van Hervormde Kerke die Algemene Kommissie van die NHKA ontmoet oor die kerk se moontlike hertoelating tot hierdie liggaam. Die lidmaatskap van die NHKA is tydens hierdie liggaam se een en twintigste vergadering in 1982 te
Verklaring
Ons as predikante van die NHKA verklaar onomwonde dat apartheid sowel in uitwerking as in wese sonde is en enige teologiese regverdiging daarvan is ’n mistasting.
Apartheid
· dit gebaseer is op ’n beweerde ongelykheid tussen mense wat in die pad kom van die bediening van die versoeningswerk van Christus;
· dit eksklusiewe voordele aan wit mense ten koste van swart mense gegee het;
· daar ongeregtigheid en onderdrukking plaasgevind het in onder andere die destydse gedwonge menseverskuiwings wat die gesinslewe van miljoene mense verwoes het;
· dit die beeld van God in mense aantas – wat die Heilige Gees bedroef.
Ons ken geen ander evangelie nie as God se liefde wat van ons vra om deernis te hê vir ander, soos God met ons deernis het. Daarom
As mense wat voordeel getrek het uit onregverdige strukture aanvaar ons mede-verantwoordelikheid vir die trauma wat ander gely het. Die evangelie dring ons om nie daaraan mee te werk nie.
Eenheid en verskeidenheid in Christus
Ekumeniese verhoudings demonstreer dat gelowiges dwarsoor die wêreld één is in Christus. Ons
Die kerk van Christus is veelkleurig, maar eenheid is die eis van die evangelie. Terwyl ons skakerings in spiritualiteit respekteer, werk ons saam om verskille diensbaar te maak in die koninkryk van God. Ons doen dit deur mede-gelowiges se onderskeie kulture te respekteer, na mekaar te luister en by mekaar te leer wat die kern van die evangelie van Christus is, naamlik mekaar opreg lief te hê met woord en daad.
Gebed
Bewus daarvan dat ons elke oomblik in die teenwoordigheid van die heilige God lewe, bid ons: Here, ontferm U! Ons bely ons skuld voor U en voor almal wat deur ons toedoen ontmenslik is. Leer ons om te haat wat U haat, en om U lief te hê met hart, siel, verstand en kragte, en ander soos onsself. Ons wil liefhê soos u liefhet. Bekeer ons tot U in daardie oomblikke waarin ons vir hierdie liefde terugdeins. Laat u koninkryk sigbaar word in wat ons dink en doen. Maak ons getrou aan u evangelie en gee ons die moed om dit nie op die spel te plaas nie. Ons wil ons nooit vir u woorde skaam nie. Laat u wil geskied oral waar ons leef en werk. Maak ons nuut, Here!
Uitnodiging
‘n Mens voel alleen en magteloos wanneer die lig van die evangelie dof om jou geword het. Die téénstem (téén alles en almal daarbuite, vír net onsself) is luid en sterk, soms selfs gewelddadig. Die meerderheidstem is dikwels stil. Ons nooi predikante en lidmate van die NHKA wat by hierdie roepstem aanklank vind uit om hulle stemme op ‘n respekvolle en evangeliese manier te laat hoor. Betuig u instemming per e-pos aan een van die adresse hieronder sodat ons mekaar se hande
Andries van Aarde (andries.vanaarde@up.ac.za)
Johan Buitendag (johan.buitendag@up.ac.za)
Yolanda Dreyer (yolanda.dreyer@up.ac.za)
Ernest van Eck (ernest.vaneck@up.ac.za)
Jimmie Loader (james-alfred.loader@univie.ac.at)
Versprei die Woord
19 Reaksies op "Apartheid in Kerk en in Politiek" 
|
se kommentaar op 13 Mar 2009 3:37:17 PM PST
Goeie werk, ek is trots op julle!
|
|
se kommentaar op 13 Mar 2009 8:27:42 PM PST
Ek is nie lid van die NHKA nie, en woon tans in China. Maar op Stellenbosch het ek baie gehou van die plaaslike NHKA-predikant en van die klein, plaaslike gemeente. Die dienste is uitsluitlik bygewoon deur blanke Afrikaners, hoewel nie-blankes blykbaar ook welkom was. Daar was geen fout met dié opset nie, want in 'n land waar apartheid ondubbelsinnig afgeskaf is, kan so 'n klein, blank-Afrikaanse gemeente sonder gewetensbeswaar sy gang gaan. Hierdie gewetensvryheid is juis deur die afskaffing van apartheid geskep. Dis verbysterend dat die sinode van die NHKA blykbaar vasklou aan 'n evangeliese regverdiging van apartheid. Waarom sou 'n Christelike kerk 'n politieke ideologie wou regverdig wat nie meer in die praktyk bestaan of 'n kans het op herlewing nie? 'n Ideologie wat deur die hele Christelike gemeenskap wêreldwyd verwerp word? 'n Ideologie wat die Christelike suiwerheid van die NHKA in die verlede aangetas het, en wat sy tipiese lidmate steeds onder verdenking plaas? Die Ottawa-versoek moet in 'n ondubbelsinnige mosie voor die sinode dien. Die mosie moet lui: "Die NHKA verwerp apartheid as onevangelies." Net hierdie ses woorde. Mooi taalgebruik vol wroegende en salwende woorde kan voor of na die tyd toegelaat word. Maar in die mosie self sal dit neerkom op 'n ontwykingsmaneuver. Laat die sinode oor maksimaal ses woorde stem, sodat ons kan weet waar die NHKA staan. Let op dat lidmate hierna nog steeds in apartheid as politieke ideologie kan glo. Maar hulle sal nie meer die NHKA kan byroep om dit evangelies te regverdig nie. Kerk en Staat is geskei in Suid-Afrika. Die Kerk se sanksie is nie nodig waar iemand 'n staatkundige opinie wil huldig nie.
|
|
se kommentaar op 14 Mar 2009 2:09:07 AM PST
Nie net die WRK nie, maar ook die Vader wag vir ons beleidenis. Die tyd is nou of nooit. Baie dankie vir die leiding die Here seen u almal.
|
|
se kommentaar op 14 Mar 2009 3:46:39 AM PST
Gelei deur Woord en Gees kan ek ook nie anders nie as om my te skaar by die geloofsoortuiging van genoemde teoloë. Mag God ons lei om op ál die vlakke van die samelewing, die monster van apartheid met liefde te troef.
|
|
se kommentaar op 14 Mar 2009 6:12:35 AM PST
Ek is ‘n predikant van die Hervormde Kerk wat self dag tot dag en week na week moet worstel met die vraag – wat wil die Here deur sy Gees vir my en ook vir sy gemeente sê.
Ek is teleurgesteld met die trant en wyse waarop die vyf professore hierdie baie sensitiewe en emosionele saak in ons Kerk voortydig op ‘n spits probeer dryf.
Ek is nie iemand wat baie praat of skryf buite die veilige kring van my gemeente nie. Maar ek voel vandag deur die Here self gedring om iets te sê.
Ek beskou dit as verdagmakery en dood gewoon ‘n leun om te beweer dat die Hervormde Kerk nie bereid is om die teologiese regverdiging van apartheid te verwerp nie. Die professore se brief kan ook buitestanders mislei om te dink dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ‘n besluit oor Apartheid namens die Hervormde Kerk kan neem. (Sien reaksie van Etienne Britz.) Daarom beskou ek hulle verklaring as in stryd met die kernwaarhede van die evangelie van ons Here, Jesus Christus.
Die Hervormde Kerk is besig met ‘n proses om by ‘n eerlike antwoord oor die kwessie van Apartheid uit te kom. Dit is baie duidelik dat selfs lidmate in die Hervormde Kerk nie almal dieselfde definisie aan Apartheid heg nie. Wat is die Apartheid wat onevangelies is, wat “sowel in uitwerking as in wese sonde is”? Dit is waar ons almal sal moet begin. Wie se definisie is korrek? Die definisie wat die mense wat dit uitgedink het daaraan gegee het of die definisie wat deur die teenstanders van Apartheid daaraan gegee is. Die vier “eienskappe” wat die professore uitlig is ‘n herhaling van standpunte wat baie Hervormde lidmate as eensydige propaganda en dood gewoon onwaarhede beskou.
Die meeste Hervormde lidmate verafsku skynheiligheid. Dit is myns insiens een van die kenmerkendste eienskappe van ons spiritualiteit. Ons sal nie iets sê, net omdat ander mense wil hoor dat ons dit sê nie. Ons wil met eerlikheid en oortuiging praat. Daarom dink ons soms tyd neem voordat ons ‘n besluit neem.
Ek vra dat die professore die beproefde pad van liefde, geduld en verdraagsaamheid sal loop en hulle insette lewer waar dit kan help om by die beste weergawe van die waarheid uit te kom.
Ten slotte wil ek ook ‘n voorstel maak vir die Algemene Kerkvergadering. Laat ons ‘n besluit neem – Die Hervormde Kerk verwerp alle politieke stelsels as onevangelies, sowel in uitwerking as in wese sonde. Hierby word ingesluit: Apartheid, Kommunisme, Sosialisme, Kapitalisme, Demokrasie en Outokrasie.
|
|
se kommentaar op 14 Mar 2009 10:06:25 AM PST
Wanneer ek my met julle vereenselwig doen ek dit met trots en dankbaarheid.
Sterkte! Ek bid vir julle.
|
|
se kommentaar op 14 Mar 2009 5:26:12 PM PST
PERSPEKTIEF OP DIE VERKLARING VAN ‘N PAAR (VERLINKSE) HERVORMDE TEOLOË.
Die artikel en antwoord daarop word op SEGE se webwerf geplaas. Normaalweg wil SEGE nie in kerksake betrokke raak nie, maar die berig in Beeld raak nie net die NHKA se lidmate nie; dit is ‘n aanklag teen die hele Afrikanervolk en sy verlede.
Dit, wat ons al ‘n geruime tyd gelede verwag het, het toe op 12 Maart 2009 gebeur. Die linkse aanslag teen die Nederduisch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) het na die voorlaaste Algemene Kerkvergadering begin. Daar was in stille voorbereiding gereed gekry met die oog op die Algemene Kerkvergadering (AKV) van 2007, wat dan op kort kennisgewing bekend gemaak sou word om voordeel uit die verrassingselement te trek. Gelukkig het die inligting begin uitlek en die voorstel dat die kerk sy kerkorde moes verander en met die swart Engelssprekende Maranata Reformed Christian Church moet verenig, soos geëis deur die World Alliance of Reformed Churches (WARC), kon toe nie slaag nie. WARC het geëis dat die kerk moes deformeer om die woord “volk” uit die kerkorde te verwyder. Die WARC het dit gedoen sonder dat hulle verstaan wat die woord “volk” beteken, want hulle taal (Engels) bevat nie so ‘n woord nie; verder het die NHKA se verteenwoordigers dit nie die moeite werd geag om dit aan hulle te verduidelik nie.
Die linkse teoloë wat wil keer dat “die klippe nie uitroep nie”, is hoofsaaklik by die gedeformeerde Universiteit van Pretoria werksaam (soos wat hulle e-pos adresse aandui) om NHKA se predikante op te lei. (Die NHKA as volk- en behoudende kerk is vir hulle ‘n verleentheid en moet ten alle koste “gedeformeer” word). Dit is onder hulle hulp dat daar nou hergroepeer word vir hulle nuwe offensief teen die kerk in volksverband. Hulle gebruik die verlinkse koerant Beeld van die Kaapse Nasionale Pers groep as hulle spreekbuis (hierdie vreemde alliansie met die verwêreldse koerantgroep bestaan al vir jare). Dié koerant, wat hulle as spreekbuis gebruik om met medelidmate te kommunikeer en van hulle standpunte te oortuig, is deel van die persgroep wat vir Deon Maas as ‘n artikelskrywer gebruik het totdat die openbare mening van Christen Afrikaners teen sy artikels Rapport gedwing het om sy bydraes op te sê. Beeld (15 November 2007) berig hieroor soos volg: “Maas sê hierin hy is nie ‘n aanhanger van georganiseerde geloof nie, maar satanisme is ‘n ‘godsdiens wat die reg het om beoefen te word’”. ‘n Artikel van hom agt dae tevore se opskrif was “666 is net ‘n syfer”.
Voordat ons na die biegbelydenis van die geleerde teoloë kyk is dit nodig om te reageer op die gesegde : “Aan jou vriende sal jy geken word” en daarmee saam waaroor daar nie bely word nie. Hierby is dit ook belangrik om na WARC te verwys wat met reg as ‘n simpatiseerder oor die jare van die ANC-S.A. Kommunistiese Party alliansie beskou kan word.
Die alliansie met WARC toon die volgende persone in hulle midde:
Allan Boesak, sy verlede is aan ons almal bekend. Verdere inligting is:
Bestuurslid van WARC – vanaf die 1980’s.
Lid van Sinodale Kommissie van die Verenigende NG Kerk.
Lid van die topbestuur van die ANC in die Weskaap – tans premierskandidaat van COPE.
Boesemvriend van prof. Johan Buitendag.
Desmond Tutu
Voorsitter van die sogenaamde “Waarheid en Versoeningskommissie”. (Ons weet dat dit onder sy leiding alles behalwe die waarheid en net so min versoening verteenwoordig en ewe min versoening gehandhaaf het. Daar was grootskaalse bevoordeling van ANC lede)
Daar is ook nog ander ANC aktiewe politici tussen die “broeders”.
Terwyl die apartheid sogenaamd “mensonterend en boos” is, swyg ons akademiese teoloë oor die veel groter “mensonterende en bose” orde wat na apartheid geskep is en wat deur WARC onderskryf en geduld word; soms nie te stilswygend nie. Die moord op meer as twintigduisend Afrikaners deur swartes wat in die eerste vyftien jaar vanaf 1994 plaasvind, word met stilswye in die alliansie aanskou. Dit is minstens vyf keer meer as die hoeveelheid swartes wat die afgelope vyftig jaar onder apartheid se handhawing gesterf het. Word die moord op ongeveer 250 000 swartes sedert 1994 deur medeswartes onder die ANC regime deur die geleerde teoloë as mensonterend beskou? Indien wel waarom so stil? Die swartes se algemene lewensstandaard het onder apartheid dramaties gestyg; meer as seshonderd duisend Afrikaners is tans armblankes met baie in plakkerskampe (30 in Pretoria alleen). Apartheid het vir elke swart volk vryheid aangebied; die Afrikaner word dit onder ANC-WARC misgun. Nog vele ander voordele was aan swartes gebied soos hoë gehalte mediese dienste.
Lees gerus weer Matteus 7:15-20 : “.. pas op vir vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?”
Die Belydenis in Nasionale Pers se koerant Beeld
Die eerste paragraaf se eerste sin begin met “’n Oomblik van waarheid word ongevraagd deur die Heilige Gees in gelowiges se harte gelê.”
Ons weet dat die WAARHEID onafskeibaar is van die Heilige Gees. Waarom word die waarheid dan verswyg oor die baie positiewe dinge wat apartheid aan die swartes gebied het. Waarom die doodswyg van die huidige ANC bedeling en die WARC se stilswye, terwyl daar WARC lede was wat dade van terrorisme gepleeg het teen onskuldige lede van die publiek ten tye van apartheid. Dit laat die vraag ontstaan of daar nie eerder geluister is na die eie inbeelding nie!
In die 5de reël staan: “as ons stilbly, sal die klippe uitroep”.
Waarom bly ons beswaarde teoloë dan stil oor dit wat hierbo genoem was? Hy wat die WAARHEID (of ‘n gedeelte daarvan) verswyg, bevorder die leuen.
Reël 16 : “ … op ‘n beweerde ongelykheid tussen mense … “.
Ons antwoord: Hy wat beweer dat alle mense gelyk is, ontken die werklikheid. Elkeen wat op straat staan en kyk na die mense wat verbyloop weet dat alle mense nie gelyk is nie. Dit is ‘n tipiese voorbeeld van die halwe waarheid. Apartheid gaan van die uitgangspunt oor die eiesoortigheid of andersheid van elke mens en volk. Sonder om ‘n eie waarde-oordeel daaraan te heg. Die gebruik van die woord het niks met gelykheid te make nie – maar sonder gelykheid kan die valse bewering nie slaap nie.
Die vraag ontstaan waarom hierdie geleerde teoloë in die jaar 2009, meer as 40 jaar na die moord op dr. Verwoerd en die opheffing van apartheid, nog steeds die moeë perd opsaal. Gaan dit regtig oor die “sonde” van apartheid, of is apartheid ‘n sweep om die Afrikanervolk te laat buig in ‘n kommunisties beheerde oligargie.
Die geleerde teoloë het ongelukkig nie deeglike en kontroleerbare navorsing gedoen oor die onderwerp waaroor hulle wil bieg en ‘n mening wil gee nie. In 1950 het dr. Verwoerd al gestel dat “beide bevolkingsgroepe, wit en swart, ‘n plan moet vind wat beide kanse tot volle ontwikkeling van kragte en ambisies kan verskaf sonder dat dit in botsing kom. Die enigste moontlike uitweg is … dat albei ‘n ontwikkeling aanvaar geskei van mekaar. Dit is al wat die woord apartheid beteken.” Hoe reg was hy nie as ons vandag kyk na die mensonterende toestand rondom ons en veral binne ons eie volk nie. Dit is slegs die wat hulle blind hou vir die waarheid wat dit kan miskyk.
Reël 21, 23 en 30 : “.. dit eksklusiewe voordele aan wit mense ten koste van swart mense gegee het”. “As mense wat voordeel getrek het uit onregverdige strukture aanvaar ons mede-verantwoordelikheid vir die trauma wat ander gely het. Die evangelie dring ons om nie daaraan mee te werk nie.”
Ons antwoord: Blankes het slegs binne hulle eie gebiede voordeel getrek. Binne swart gebiede was voordele ten koste van blankes. Dit is dan ook nie te verbase dat daar na 1994 ‘n doelbewuste poging deur regeringsinstansies aangewend was om die inligting oor die bydraes deur apartheid tot voordeel van die land se swartes te verwyder nie (PH du Preez, APARTHEID: MISDAAD OF WELDAAD?; PH du Preez 2007), want die leuen kan nie saam met die waarheid in die daglig bestaan nie.
Wat die “onregverdige strukture” aanbetref vertrou ons maar net dat ons geleerde vriende bewus sal word van die onregverdige strukture waaroor verskeie ANC politici al gesê het dat dit nooit verwyder sal word nie. Ons noem dit Affirmitive Action en sogenaamd Swart Ekonomiese Bemagtiging.
“.. gedwonge menseverskuiwings, wat die lewe van miljoene mense verwoes het”.
‘n Aansienlike deel van die Afrikaner sal vandag wat wou gee om “verskuif” te word met al die finansiële ondersteuning soos onder apartheid. Dan kan hulle ‘n nuwe begin maak, hulle kinders en geliefdes uit die buiteland terugkry en die lewens van geliefdes (wat nog oor is) behou. Ons versoek die geleerde teoloë om ruimte aan hierdie waarheid te gee.
Reël 33-37 : “Eenheid en verskeidenheid in Christus”
Ons antwoord: Allereers moet duidelikheid verkry word oor die begrip “eenheid in Christus”. Eenheid in Christus as Bybelse begrip is gelyk aan een in geloof in die een Christus, die gekruisigde en opgestane Seun van God, die beloofde Messias van God. Dit beteken dat dit nie eers fisies demonstreerbaar hoef te wees nie, want daardie eenheid is. Die Skrif leer nêrens ‘n wêreldwye wêreldkerk waarin al die nasies moet verdwyn nie. Die “New Age” denke eis dit wel.
Die probleem bestaan dat ons geleerde teoloë met ‘n ideologiese eenheidsbegrip werk, soos byvoorbeeld dié van Adolf Hitler wat sy ryk gebou het op die slagspreek: “Ein Volk, Ein Reich, Ein Fuhrer”. Netso min as daar ruimte was vir verskeidenheid by Hitler, netso min word verskeidenheid nou ruimte gegun deur die geleerde teoloë. As daar ruimte vir verskeidenheid in hulle denke is, waarom word daar nie ‘n beskeie ruimtetjie oopgelaat vir die vertrapte en verdrukte sondaar Afrikaner, wat nie eens sy eie taal in sy eie vaderland mag praat nie. Volk en kultuur trek tog betreklike grense wat egter nié die eenheid in die geloof kan versteur nie. Die verskeidenheid word juis deur ons geleerde teoloë negeer. Dit is wat die ANC regime ook doen en dit vorm die kern van haas elke ander probleem waaronder ons land vandag ly.
Reël 38:42 : “Ons doen dit deur mede-gelowiges se onderskeie kulture te respekteer, na mekaar te luister … “
Ons antwoord: Dit wat hier genoem word het meer tot sy reg gekom onder apartheid as teenoor dit wat vandag die geval is. Die Afrikaner se kultuur word vandag vertrap en vernietig. Asseblief, hou op om gedeeltes van die WAARHEID te verswyg, want dit bevorder die leuen!
Reël 51 : Onder die opskrif: “Die Uitnodiging”. “’n Mens voel alleen en magteloos wanneer die lig van die evangelie dof om jou geword het.”
Ons antwoord: As mens die “Uitnodiging” van die geleerde teoloë lees, dan wek dit tog ‘n bekommernis en vra ‘n woord van vermaning.
● Eerstens is die formulering van so ‘n aard dat dit die indruk skep dat mense gewerf word om saam op te ruk om die “verdwaalde Hervormde Kerk” uitmekaar te skeur.
● Ten tweede trek hierdie oproep ‘n groot vraagteken oor die geleerde teoloë se erns met die begrip eenheid in die kerk.
● Ten derde is dit ‘n oop vraag of die versamelde steun van die geleerde teoloë as stem van die kerk aangebied kan word. Dáárdie steun het ons gehoor by die Algemene Kerkvergadering van die NHKA van 2007, toe aansluiting by die WARC afgewys is.
Laat ons afsluit deur saam te vat dat ons moet terugkeer na die WAARHEID en niks minder as die WAARHEID nie. Ons herken hierdie verklaring in Beeld as die voortsetting van die aanslag teen die NHKA en teen ons ouers en voorouers en behoudende lidmate in die NHKA wat maar net rustig met hulle geloofslewe wil voortgaan tot eer van hulle Skepper, ten spyte van alles wat in hulle weg gelê word. Ons weet dat die linkse alliansie van teoloë nie sal rus voordat die kerk vernietig is in die proses om te verwêrelds nie. Waarom verlaat hierdie teoloë nie die NHKA nie, daar is vir hulle ‘n tuiste in die NG Kerk, wat presies soos hulle voel en wat gehelp het om apartheid met die huidige regime van ongeregtigheid te vervang. Daar is baie onder hulle wat nou ontnugter is en daar kan dan sommer eerstehands van hulle geleer word wat verkeerd gegaan het. Dit is die eerbare weg om die kerk te verlaat en nie om dit te vernietig deur dit te verdeel nie; of sit daar meer hieragter? Moet ons nie verkwalik dat ons maar baie skepties hierdie dinge gadeslaan nie. Dit is so oud soos die mensdom en dit wat in die plek daarvan kom nadat dit klaar vernietig is, is gewoonlik veel slegter as dit wat voorheen bestaan het. Die vraag kom na vore of die NHKA se bates, wat deur die volk, wat nou aangeval word, opgebou is en wat die “bekeerde” teoloë nou wil vernietig met kerklike verdeeldheid dalk nie met gretige oë ingewag word deur die WARC vir herverdeling nie. Die Nuwe Kriminele Suid-Afrika met sy WARC ondersteuning is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Hiermee ‘n uitdaging aan die geleerde teoloë na aanleiding van die ryk jongman in Matteus 19:21 :
Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
Ons vermoed dat so ‘n edele daad deur die geleerde teoloë nie vir die verarmde lidmate van die NHKA of die armblankes van ons volk sal wees nie, maar hulle kan dit dan minstens doen ter wille van dié mense oor wie hulle so hard op hulle eie kerk en volk is.
R Buitendach 12 Maart 2009
http://www.sege.co.za/Spesiaal.htm
|
|
se kommentaar op 28 Feb 2010 8:10:07 AM PST
Dankie dat ek iets kon lees as blanke Christen,wat vir my sin maak en ook in my hart spreek dat u reg is!Mag God u en u familie seen.
|
|
se kommentaar op 28 Jul 2010 10:48:50 AM PST
Puik gestel!!
|
|
se kommentaar op 15 Mar 2009 3:08:10 PM PST
Op die skerpste moontlike wyse wil ek my distansieer - nie van u as geëerde teoloë nie, maar van u verklaring in Beeld, en wel om die volgende redes :
a). U berus nie by en volstaan nie met die besluite van die AKV nie.
b). U is nie bereid om die proses oor WARC (soos die Kerk besluit het) saam
met die Kerk deur te worstel nie. U het die pad van die pers (wêreld)
gekies om stemme vir u opinie te maak. Dit is om buite die kerk en teenoor
die kerk te gaan staan. Grens dit nie aan kerkskeuring nie ?
c). U skaam u voor God oor wat in die NHKA gebeur het, terwyl dit tog die
Here se kerk is waar sy Woord Sondag na Sondag troos, hoop en
besieling bied vir duisende kinders van die Here.
d). Waar die mens praat, mag hy/sy nooit die Heilige Gees laat buikspreek nie.
e). Die lig van die evangelie kan nooit dof word nie. Dit word alleen dof as
aan die geloofsgronde van die evangelie gepeuter word.
f). U verklaring is bewys van die vurk in die pad waarop jare gelede reeds in
die NHKA gewys is.
g). U plaas Christene wat anders as u oordeel se Christenskap onder
verdenking en maak dissipelskap daardeur 'n sosio-maatskaplike kwessie.
h). Apartheid is allermins die afwesigheid van deernis vir die ander. Miskien
is apartheid juis gebore uit deernis vir andere.
i). Segregasie / integrasie = samelewingsordeninge wat eties, en nie
teologies beoordeel moet word nie. Die ashoop van vandag se integrasie
(15 jaar) mag selfs veel groter wees as die ashoop van gister se
segregasie (46 jaar).
j). Die Kerk is nie skaam of bang vir ekumeniese kontak nie, mits dit nie van
ons verwag om binne sekere parameters te dink en te doen nie.
In hoeverre het genoemde 5 here hul sogenaamde ongereserveerde liefde deur die daad bewys ? Is u spreke nie maar die napraat en saampraat in die wêreldkoor vanuit u eie gemaksone nie ?
|
|
se kommentaar op 16 Mar 2009 6:17:45 AM PST
Ek voeg graag my stem by die verklaring van die vyf teoloë van die Hervormde Kerk. Ons kan nou maar rasionaliseer soos ons wil, maar apartheid het mense se waarde aangetas en dit is tyd dat die Kerk hom daaroor uitspreek en hom daarvan losmaak, sodat ons kan aangaan met dit waarvoor ons hier is: om die evangelie van Christus aan alle mense te verkondig en die liefde van God aan alle mense te wys. Baie dankie aan die vyf teoloë wat die moed van hulle oortuiging gehad het om te sê: "Ons kan nie 'n dag langer hiermee saamleef nie!"
|
|
se kommentaar op 16 Mar 2009 2:29:00 PM PST
Ek is NIE 'n teoloog wat in groot woorde en teologies terme kan redeneer nie, nee - ek is net 'n gewone lidmaat, wat uit 'n baie ou kerkfamilie kom, en baie trots is daarop. Re: Verklaring: ........ mense lees"verklarings" vanuit verskillende perspektiewe, maar ek is nou steeds, en meer as ooit daarvan oortuig dat die verklaring meer lyk soos 'n rypgedrukte vrug ....... daar kan maar net nie aanvaar word dat die meeste lidmate van die kerk net gewoon "kerk" wil wees nie. Ons stel nie belang in allerande verklarings, beleidenisse, trane, en klippe wat sal uitroep nie. Die feit is net, ek sal nie bly in 'n kerk wat vir my 'n verleentheid is, of wat my skaam maak nie. Dit is nou die mense wat ons studente moet oplei om predikante te word. - Nee, ons moet trots wees op ons kerk!! (Geskiedenis kan nie net met 'n uitveer uitgevee word nie) Dit sal regtig onwaarskynlik wees as studente nie die taal van hul leermeesters gaan glo en verkondig nie. Ek se nie dit sal gebeur nie, maar dit sal ongewoon wees. Regtig, mense moet mooi besin wat hulle verklaar. Die heel laaste deel van die verklaring dui op die eensaamheid en alleenheid van hierdie mense en nooi hulle predikante en lidmate uit om hulle te kontak. Dit klink edel ................. maar is dit nie 'n (?) uitnodiging tot kerkskeuring nie? Dit sal absoluut hartverskeurend wees. Hierdie mense ken die pad wat tot nou toe geloop is. Waarom kan ons, ons nie maar bepaal by kerkwerk op grondvlak nie. Ons is al amper 15 jaar 'n demokrasie - dit is so ongevraagd om nog steeds te hamer op die woord apartheid. Baie van ons, al is ons dalk nie te vry-denkend nie, voel regtig nie skuldig nie, want baie van ons was net goed vir alle mense wat op ons pad gekom het. Wat het die jeug daarmee te doen? Waarvoor moet hulle verskoning vra??? Die feit dat hulle Suid-Afrikaners is, of dat hul ouers en hulle tot die hervormde kerk behoort. Ons kan ook mos nie instaan as die 1948 regering 'n sekere riging ingeslaan het en hom 'n naam gegee het nie. Nee, elkeen wat so voel, belei dan maar, maar ek kan nie sien dat dit van die hele kerk verwag kan word nie.
Adri Storm
|
|
se kommentaar op 17 Mar 2009 12:59:42 AM PST
Ek voeg hier die brief wat ek aan die 5 teoloë gestuur het:
My hart het gejuig toe ek die berig van die vyf Hervormde teoloë gelees het. Julle was gehoorsaam aan die stem van die Heilige Gees en daarvoor is ek baie dankbaar. Ek het die volledige verklaring gelees en kan heelhartig daarmee saamgaan. Julle het verwoord wat nie net in my hart leef nie, maar ook in die harte van ’n al hoe groter wordende getuienis in die Hervormde Kerk. As dit nie die werking van die Heilige Gees is nie, dan weet ek nie!
Ek aanvaar dat julle ook verguis gaan word oor die geloofstap wat julle geneem het. Maar weet dat ek en Erna vir julle bid en dat God julle sal sterk maak.
Ek het jare gelede my teenstem saam met prof. Loader laat aanteken toe die kerk nie bereid was om art. 3 af te skaf nie.
En nou wil ek my stem voeg tot hierdie verklaring.
Rudi en Erna Rust van die Nederduitsch Hervormde gemeente Vanderbijlpark-Suid
|
|
se kommentaar op 25 Mar 2009 1:34:37 AM PST
Ek en Christel vereenselwig ons volledig met hierdie verklaring en loop graag saam met julle die pad. "Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.”
Almero & Christel Oosthuizen (Meyerton-Suid)
|
|
se kommentaar op 01 Apr 2009 3:55:30 AM PST
Baie dankie, Andries en kollegas, vir jul onuitputlike werk en visie om die boodskap van liefde (die alles oorwegende boodskap) uit te dra. Ek bid dat daar 'n dag sal kom dat ons as Christene in hierdie land sal practice-what-we-preach.
|
|
se kommentaar op 17 Apr 2009 12:51:25 AM PST
Dit is dalk mosterd na die maal maar ek wil ook my stywer in die beurs gooi oor die verklaring van die vyf professore oor die sonde van apartheid. Ek onderskryf hulle verklaring en wil dit aan die hand van twee sake verduidelik. Eerstens: apartheid was ʼn poging om ʼn utopie vir blankes aan die suidpunt van Afrika te skep. Tweedens: die ontwikkelingsfase van die Afrikanerkultuur was vasgevang in die wurggreep van die etnosentriese mitologiese fase.
Apartheid as utopie: Soos kommunisme was apartheid die droom van ʼn klein groep mense om die lewens van ʼn deeltjie van die bevolking dmv strukture te verbeter. Hierdie uiterlike veranderings het ongelukkig nie rekening gehou met die mens se innerlike onstuimigheid wat deur die ego gedryf word nie. As jy nie die innerlike saam met die uiterlike verander nie is jou droom gedoem om in ʼn helse nagmerrie vir almal te verander. Dit het met die Oosbloklande se kommunisme gebeur en so ook in Suid Afrika. Post-apartheid is ook ʼn poging om ʼn utopie te skep en die skrif is al klaar teen die muur. Niemand het daaraan gedink om die innerlike van die bevolking te verander nie. Die Engelse het ʼn gesegde: “The road to hell is paved with good intentions.”
Mitologiese ontwikkelingsfase: Toe apartheid uitgedink en geskep is was meeste Afrikaners op die mitologiese fase van ontwikkeling. Psigoloë het ongeveer sewe ontwikkelingsfase by die mens en kulture gevind en almal begin by fase een. Die fases in volgorde is, argaies, magies, mitologies, rasioneel, pluralisties, holisties en transpersoonlik. Argaies en magies is egosentries, mitologies is etnosentries, rasioneel en pluralisties is wêreldsentries terwyl die laaste twee fases Kosmosentries gerig is. Vandag is baie Afrikaners nog steeds op die mitologiese fase terwyl ʼn groot groep reeds op die rasionele en pluralistiese fases is. Dit is hoekom hierdie debat so vurig is. Die twee groepe verstaan mekaar nie. Elkeen verabsoluteer die fase waarop hulle beweeg.
Dit is dus die verabsolutering van jou fase en die poging om utopiese strukture te skep sonder om die innerlike te verander wat “sonde” is.
|
|
se kommentaar op 15 Mar 2010 8:37:27 AM PST
'n Boom word aan sy vrugte geken. Hoekom skryf Buitendag nie 'n tirade oor humanisme en kommunisme nie? Hoe is dit moontlik dat mense in 2010 nog die werklikheid so verkeerd kan lees? Miskien moet die land (en kerk) eers heeltemal ten gronde gaan voordat sommige liberales sal verstaan. Genugtig!
|
|
se kommentaar op 14 Jan 2011 6:48:04 PM PST
12 Jaar gelede het ek Suid Afrika verlaat en woon tans in New Zealand en is tans deel van ‘n Anglikaanse kerk. Werksomstandighede bring mee dat ek ook gereeld na boodskappe van die Evangelical Free Church in Madison Wisconson luister. So wat het dit te doen met die teoloe se verklaring? Nommer een het dit my geleer dat Jesus kleur en taalblind is, en dat alle gelowiges en uiteraard ook die ongelowiges sy kinders is. My problem is as Hy nie onderskeid maak nie, op watter gronde veroorloof ek myself dan om dit wel te doen. Ek is vebaas dat na 15 jaar na Apartheid die NHK nog niks gegroei het nie, en hiermee bedoel ek geestelik gegroei het nie. Hoe lank nog voordat my mense sal besef dat daar slegs drie vrae in die lewe is nl. Wie is ek? Hoekom is ek hier? En Wat is die doel met my? Dit vat ‘n lang pad en baie selfondersoek om by die punt te kom waar jy besef jy is nie jou beroep, of jou naam of jou party of jou bevolkingsgroep nie, hierdie sake is almal toevallighede. Ek is verstom dat daar stemme is steeds wat wil voorgee dat mense nie gelyk is nie. Hierdie dwase verwar die effek van die gebroke sondige staat waarin ons lewe en dat dit regteenoorstellend is teenoor wat deur die Skepper bedoel is. In retrospek is dit ooglopend dat die feit dat daar drie Afrikaanse kerke bestaan, of bestaan het, opsigself glo ek sonde is – dit is moontlik die eerste plek waar versoening nodig is om verder te kan gaan, (Immers hier praat ons sogenaamd van witmense wat almal Afrikaans praat), voor daar na die groot onregte soos verskillend kleurige NHV kerke gekyk word wat verskilende tale praat. . Ons moet almal besef dat kerke opsigself menslike instellings is en in die proses van die vorming van hierdie instellings daar altyd kleiner of groter mistastings sal wees. Die oeroue vraag, “Wat sou Jesus doen” moet dalk weer afgestof en toegepas word. Ek glo ons is almal gebrekkige Jesus volgers. As dit nie die doel van die kerk is nie dan word kerkwees ‘n klub, soos ‘n golf klub of rygby klub. In die geval stagneer die kerk en is daar geen poging om Jesus voluit te probeer volg nie. Dus as die kommentators op die teoloe se oproep se hulle moet in vrede gelaat word om net kerk te wees dan val hulle duidelik in die klub kategorie. So wat sou Jesus doen – wel wat het hy gedoen? – Hy het Sy groep, wat later die kerk sou word en wat duidelik nie ‘n gebou was nie, eers onder die Jode gevorm, en Matteus het sy evangelie vir die “gentiles” geskryf, hulle het ‘n vreemde taal gepraat en was die onderdrukkers van die Jode – het hulle ‘n ander kerk gevorm, nee dit was dieselfde kerk. Soveelso dat Paulus later vertel dat toe die groep in Jerusalem nood beleef het, het die kerk in Antihogiee uit hulle armoede daarop aangedring om die kerk in Jerusalem te help. Paulus gaan ook verder en waarsku die verskillende groepe toe daar tweespalt gekom het dat hulle moet besef dat dit om Jesus gaan en om die Koninkryk en nie om hulleself nie. Wel as dit goed was vir Paulus en die dissipels, op watter gronde sal ons kan redeneer dat ons beter weet en dat dit anders behoort te wees vir ons. David Harrison, in sy boek “The White Tribe of Africa”1983 ISBN 0869542354 wys duidelik uit hoe die kerk deur politisie gebruik is voor 1948 om die Afrikaner te bevorder – in die geval wel teen die Engelse meer as teen die anderskleuriges. Wel, indien die kerk op enige manier anders ingespan word as om die Koninkryk te verkondig dan het dit ‘n klub geword – dit is waar vir die vroee jare en ook vir nou. Baie van die kommentators doen ‘n oproep om eerlikheid, wel, daar is niks verkeerd om ‘n klub te stig of om ‘n klub te wees nie, wees net eerlik met die “self”, gaan dit om Christus of om ‘n saak om die “self” te bevorder bo ‘n ander. Albei kan nie reg wees nie. Jesus leer ons om ‘n slaaf vir ander te wees en soos die voorblad van die NHK se webwerf prentjie, om anderes se voete te was. Is die kerk besig om die ander kerke se voete te was, en nie net die ander gelowiges s’n nie maar ook die ongelowiges? Dit is ‘n groot saak om te belei dat jy verkeerd was, onthou daar is sedert 1948 van NHK kansels af verkondig dat Apartheid bybels geregverdig is, dis diep gewortel – wel as ons wel die moeite doen om self die bybel te lees dan kom ons agter dat dit dood gewoon vals was. Die probleem kom in dat daar ‘n omkeer gedoen moet word en dat all gelowiges en anderes ongeag velkleur lief gehe moet word van dieselfde kansels of. Dit gaan voorwaar nie maklik wees nie en baie van die nie-denkende gemeentelede gaan erg verwar word met so ‘n ommekeer. So, Andries en jou genote, wel gedaan, maar met baie gebede en met die oog op die Een wooroor alles behoort te gaan, as die kerk moet skeur omdat die waarheid verkondig word, dan is dit ‘n goeie ding. Sterkte, en ons moet onthou die bybel leer ook dat God houself sy kerk in stand.
|
|
se kommentaar op 17 Mar 2011 7:27:29 AM PST
Graag wil ek nou weet,as ek my seun of dogter laat trou met 'n boerseun of boeremeisie is dit nie ook apartheid nie?Miskien sit ons die pot iewers mis met woordkeuses.Groetnis
|


Author)