Fakulteitsopening: Koos Kombuis
- Deur Koos Kombuis
- Gepubliseer 5 February 2009
- Artikels
-
Evaluering:




Koos Kombuis
Koos Kombuis se Artikels
Die Derde Lewe van Colet
Ek het drie keer in my lewe tot bekering gekom. Hierdie drie bekerings is die coolste goed wat ooit met my gebeur het. Dis vandag die eerste keer dat ek in die openbaar daaroor praat.
My eerste bekering was die lekkerste. Maar dit het ongelukkig ook die kortste geduur. Dit was alles oor in omtrent tien minute, en die goeie gevolge daarvan het nie eens ‘n jaar gehou nie.
Dit het gebeur op die ouderdom van sestien. Ek was ’n opstandige en woedende tienderjarige. Ek het my ouers gehaat, ek het die wêreld gehaat, en my grootste ideaal was om Mosambiek toe te vlug en ‘n omroeper by LM Radio te word en vir die res van my lewe op goue strande rond te lê en meisies op te tel.
Toe, eendag, ontmoet ek ‘n groepie jongmense wat pas hul harte vir Jesus gegee het. Hulle het vir my ‘n baie eenvoudige evangelie verkondig. Hulle het gesê dat Jesus my liefhet en dat, as ek my sonde bely, Hy my sal vergewe.
Ek het ‘n week lank daaroor nagedink. Eindelik ten laaste, het ek die uitnodiging aanvaar. Alleen in my slaapkamer op ‘n Saterdagoggend, het ek op my knieë gegaan en my hart oopgemaak.
Wat net daarna gebeur het, was loshande die mees verstommende ding wat nog ooit met my gebeur het in my hele lewe. Die gevoel wat ek gekry het, was onbeskryflik. Daar was ‘n ligtheid in my, ‘n vreugde, gevolg deur ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Toe ek my oë oopmaak, was dit asof daar ‘n lang tyd verby gegaan het, maar dit was net ‘n minuut of twee.
Toe het ek ingespring en my hele kamer skoongemaak, uitgevee, my bed opgemaak, my skoolboeke reggepak. Toe het ek uitgegaan en op my fiets geklim en die dorp platgery en vir vriende gaan kuier. Ek het feitlik niks gesê wat pas met my gebeur het nie. Dit was privaat.
Die dae en weke wat daarop gevolg het, was die wonderlikste van my lewe. Baie min het verander, maar daar was ‘n nuwe inhoud en betekenis aan alles. Ek het nog steeds na rockmusiek geluister, maar ek het begin onderskei tussen liedjies met goeie lirieke en liedjies van verbyvlietende aard. Ek het nog steeds na partytjies gegaan en gedans en met meisies gevry, soos altyd. Maar dit was asof ek ook begin bewus word het van die menslikheid van hierdie ervarings. Stadig het my gedagtes begin draai in die rigting van verhoudings eerder as fisiese plesier. Maar daar was geen haas nie. My hart was vol van die sekerheid dat ek stadig maar seker, en heeltemal vrywillig al nader begin beweeg in die rigting wat die tipe lewe wat God verkies het vir my.
Toe, eendag, begin ‘n reeks gebeure wat al my nuutgevonde vrede sou vernietig en eindelik aftakel tot die grond; ‘n proses van ontnugtering wat sou lees soos ‘n Griekse tragedie. Binne skaars tien jaar vanaf my eerste, wonderlike bekering, sou ek verval in dwelmmiddels, sielkundige waandelusies, chaos en sosiale vervreemding.
Dit het begin toe ek vir die eerste keer na ‘n lang afwesigheid, weer eredienste begin bywoon het in die NG Kerk. Ek moes gaan omdat ek daardie jaar aangeneem wou word as lidmaat.
Niks kon my voorberei op die skok wat gevolg het nie. Waar kerkdienste nog altyd vir my redelik vervelig was, was dit nou tien keer erger. Niemand het die vreugde uitgestraal wat ek in my hart gevoel het nie. Die dominee’s was krities en negatief. Hulle het met aangeplakte stemme en gebare gepraat, asof hulle self nie glo wat hulle sê nie. Dit was soos swak teater. Ek het besluit dat ek beter af sou wees sonder die Kerk en sy leë vertoon.
Bowendien het hulle nie hul godsdiens gebaseer op Jesus nie, maar iemand met die naam Calvyn. Volgens Calvyn het God reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit wie eendag gered sou word. Mens noem dit uitverkiesing. As mens eers uitverkies is, staan dit soos ‘n paal bo water dat jy eendag tot bekering sou kom. Niks wat jy besluit,
Die idee het my eindeloos depressed gemaak. Dit het die varsheid van die ervaring laat vervaag tot iets onoorspronklik en boring. Ek het gevoel asof ek in ‘n “arranged marriage” ingedwing is. Niks wat die kerk my vertel het, het vir my eg geklink nie. Die katkisasieboek was ‘n nagmerrie van reëls en resepte vir kamma-kamma saligheid.
Die dag toe ek in my laaste aannemingsklas moes opstaan en trou sweer aan die Kerk, kon ek dit nie doen nie. Ek het voor die hele gemeente geweier. Toe die dominee my vorentoe roep en my vra wat my rede is, het ek gesê: “Ek het onlangs ‘n ware ervaring met Jesus Christus gehad, en sedert dit gebeur het, maak die kerk vir my hoegenaamd geen sin nie.”
Dit was die begin van my soektog na ‘n alternatiewe denominasie.
In die volgende paar jaar het ek eredienste bygewoon van elke moontlike kleur en geur.
By die Apostolies het ek een goeie ervaring gehad, en dit was die spreek in tale. Ek is bly dat hulle my in hierdie byna mistieke ondervinding ingelei het, maar na ‘n ruk het hulle my bang begin maak. Hulle het gewroeg en gespoeg en neergedonder in die paadjies van die kerk. Dit was selfs swakker teater as die NG Kerk. Alles was melodramaties. Die spreek in tale is uitgestal asof dit openbare besit was, en het op die ou end ontaard in ‘n onuitstaanbare geraas. Ek het die gevoel gekry hulle benader godsdiens soos pornografie; altyd op soek na ‘n cheap thrill!
By die spiritualiste het ek een of twee positiewe ervarings gehad, maar ek is op die ou end daar weg omdat ek moeg geraak het van die misterieuse geprewel in donker kamertjies met kerse. Dit was ‘n vreugdelose, vervelige, strakke en doodse godsdiens.
Verreweg die beste ervaring in ‘n sogenaamde vreemde geloof het ek gekry toe ek begin belangstel in Judaïsme en boeke daaroor begin lees het. Terwyl ek vir die eerste keer die wonderwêreld van die Ou Testament ontdek het – boeke soos Spreuke, Psalms en Prediker – het ek ook vir die eerste keer in jare weer iets ervaar wat byna was soos die vrede van daardie eerste dag, in die geselsskap van Jesus. Hierdie ontdekking was byna soos ‘n tweede bekering, en dit het my vir ‘n lang ruk baie gemoedsrus gegee.
Ek het aansoek gedoen vir aanneming by die Joodse geloof en selfs een diens in ‘n sinagoge bygewoon, maar teruggediens uit vrees vir die besnydenis.
In die loop van die neëntigerjare het ek geleidelik verder weg begin dryf van al hierdie godsienstge spekulasies, en ‘n humanistiese lewensbeskouing aangekweek. Teen die einde van die neëntigerjare het ek dit selfs, min of meer op eie stoom, begin regkry om dwelmmiddels finaal te los. Ek het verlief geraak, getrou, en ‘n gesin begin.
Die lewe as kreatiewe humanis was tot ‘n groot mate bevredigend. Daar was egter ook ‘n toenemende gevoel van onvergenoegdheid, van “unifinished business”. Ek het bly nadink oor daardie ding wat met my gebeur het op die ouderdom van sestien. Wat het presies daardie dag met my gebeur? Waarom kon ek dit nie vergeet nie?
Teruggaan kerk toe was egter buite die kwessie. In hierdie opsig het ek en my vrou dieselfde gevoel.
In die jare tussen 2006 en 2008 is ek toenemend gepla deur depressie en ‘n gevoel van voorstedelike verval. Toe Kannetjie my in 2007 aanraai om van my woede ontslae te raak in ‘n harde rock-album – my eerste sedert Niemandsland, agtien jaar tevore, het ek dit aangegryp, en die album “Bloedrivier” is gebore.
Een van die liedjies was ‘n Engelse gospel song wat ek neergepen het een aand na ‘n halwe bottel KWV-brandewyn:
“Is there a message on that tree?
Is there mercy there for me?
Please help me to confess my sins
I’ve got a burden and it’s hurting me…
Have mercy, mercy, mercy, mercy,
Mercy, mercy me!
I’ve got nothing left to say
And I’ve lost my fucking way…
Have mercy, mercy, mercy, mercy,
Mercy, mercy me.”
Die skryf van hierdie liedjie, met sy pynlike erkentenis van hulpeloosheid en smagting na genade, sou eindelik die katalisator wees tot wat ek vandag noem my derde bekering. Anders as die blitzkrieg van my eerste bekering, en anders as die intellektuele en kulturele bevrediging van my tweede bekering, was my derde bekering ‘n stadige dog fundamenteel ingrypende proses wat nou al ‘n jaar of langer duur en wat nog nie voltooi is nie.
En anders as my eerste twee bekerings, is hierdie bekering ‘n suiwer sekulêre bekering. Ek is jammer om dit te sê, maar ek glo nie dit sal my ooit terug-lei na die Kerk nie. Hoewel hierdie bekering geïnspireer is deur presies dieselfde simbole van my eerste bekering – die kruis, die sterfte van Christus en sy opstanding – sien ek hierdie simbole vandag in meer kosmiese terme. Dit beteken nie dat my verhouding met God nie letterlik is nie. Dit beteken, aan die ander kant, ook nie dat hierdie bekering bloot die omblaai van ‘n nuwe blaadjie of ‘n reeks Nuwejaarsvoornemens is nie. Ek
En tog het ek full circle gekom. Op die ouderdom van vyftig-plus omhels ek weer die ervaring van my eerste liefde op die ouderdom van sestien jaar, daardie onvergeetlike eerste treetjie in die rigting van geestelike groei. Ek ervaar die heelal nie meer as ‘n koue, donker plek nie, maar as ‘n plek vol van God se genade. Alles bestaan slegs omdat God se genade dit toelaat; selfs die Bose.
Ja, al die ervarings wat ek gehad het sedert daardie tyd, het my geslyp tot iemand wat kennis van beide goed en kwaad het. Ek het streetwise geword. Ek het in my omswerwinge meer as een keer die Duiwel se hand geskud. Ek moes, want ek was op sy territory, en as ek nie “polite” met hom was nie, sou hy my siel permanent verwoes het. Maar ek weet ook Wie my telkens uit daardie situasies kom red het, soos ‘n verlore skaap wat in die nag gevind is deur die goeie Herder.
Ek voel asof ek ‘n vriendskap met God het; nie ‘n tjommie-tjommie-vriendskap nie, nie eers ‘n direkte lyn soos wat Angus Buchan beweer hy het nie, maar ‘n rustige gemeenskap, die soort leef-in-die-oomblik-vrede wat beskryf word in die boeke van Eckhart Tolle.
Ek is nie ‘n Christen nie. Ek sal myself nooit ‘n Christen
Hoe weet mens as jy bekeer is?
Wel, jy WEET dit. Soos jy weet as jy ‘n heupvervanging gehad het. Dis iets wat jy het of jy het dit nie. Dis die resultaat van keuses en opsies wat jy in jou lewe uitgeoefen het.
As jy eers eenmaal die deur van jou hart oopgemaak het en maaltyd gehou het met die onsigbare Gas uit die buitenste ruimte, is dit nie iets wat jy ooit, ooit, ooit sal vergeet nie.
So ‘n ervaring is meer werd as al die godsdienste en formuliere en brandglasvensters en wierook en kerse en houtpanele en blomme-rangskikkings en vroom preekstoel-kleedjies in die hele wêreld.
Ek weet nie wat om my geloof te noem nie. Maar ek
Versprei die Woord
21 Reaksies op "Fakulteitsopening: Koos Kombuis" 
|
se kommentaar op 05 Feb 2009 10:52:39 PM PST
Koos verwoord 'n geslag van ons se blootstelling aan die kerk en geloof op 'n manier wat 'n mens eintlik ontstel. Die sirkel wat hy voel voltooi is, is 'n stuk vrede wat baie van ons ken wat ook op ons pad met die kerk en geloof vervreemding ervaar het. Is dit nie juis in die egte menswees dat ons iets van die goddelike ervaar nie?
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 12:15:29 AM PST
Die woorde "sekulêre bekering", en "nie teruglei Kerk toe nie", kry nie vereenselwiging met die bekering wat hy ervaar nie. Die woord Christen wat nie volgens hom pas nie, laat my dink dat die naam Christus aanvaarbaar is, maar nie die Christene wat hom navolg nie. Bekering geskied tog maar net deur Christus en Sy woord.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 1:23:45 AM PST
Dit was vir my goed om te lees, al is die chronologie van bekering en wegraak in die verhaal nie vir my duidelik nie. Verder is daar vir my 'n groot verskil tussen 'n "generiese bekering" en "bekering na Christus". 'n Algemene bekering kan maklik bloot 'n persoonlike rypwordingsproses impliseer - iets wat elke denkende mens (meermale) deurgaan. Bekering na Christus lei 'n mens om die voorbeeld van Jesus Christus na te leef, die bind jou aan andere wat dit ook doen (die kerk), en dit dryf jou om teenoor ongelowiges te getuig van die vrede en vreugde wat jy ervaar as jy nie meer van God wegvlug nie, maar gewoon daagliks voor Hom leef.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 1:27:46 AM PST
Dit was vir my goed om te lees, al is die chronologie van bekering en wegraak in die verhaal nie vir my duidelik nie. Verder is daar vir my 'n groot verskil tussen 'n "generiese bekering" en "bekering na Christus". 'n Algemene bekering kan maklik bloot 'n persoonlike rypwordingsproses impliseer - iets wat elke denkende mens (meermale) deurgaan. Bekering na Christus lei 'n mens om die voorbeeld van Jesus Christus na te leef, die bind jou aan andere wat dit ook doen (die kerk), en dit dryf jou om teenoor ongelowiges te getuig van die vrede en vreugde wat jy ervaar as jy nie meer van God wegvlug nie, maar gewoon daagliks voor Hom leef.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 2:30:06 AM PST
ek hoef nie een of ander kerkgroep se uiterlike idees en leerstellings en persepsies te onderskrywe SODAT ek God as die alles Geur- en Betekenisgewende leef en beleef nie. In te veel plekke in hierdie land speel die NG kerk bloot kerk, onderhou tradisies en groepsbelange en te min word die lewende Woord nagevolg en deur ons monde, hande en voete sigbaar gemaak. Ons in die NG kerk lyk al te veel soos Eli en die kerk van sy tyd. Mag die Here 'n Samuel of Samuels roep om 'n verskil t ekom maak.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 10:16:25 AM PST
Koos daar was n tyd dat die duiwel reg deur jou gewerk het , hoekom jy dit toegelaat het weet ek nie , maar angus was daar geplaas deur n doel en ons weet nooit wat God se doel was nie en is nie maar God dalk met angus gepraat op n manier wat ek en jy nie sou verstaan het nie . as jy die donkie wat gepraat het kan onthou . johannes het God gepraat mee op die pat patmos toe deur n skerp lig vanaf die hemel so sterk dat sy oe verblind was ........so ek sal se laat die gees jou lei en jy sal ne spyt wees nie , sit ook n wag voor en wag vir die Gees
|
|
se kommentaar op 15 Feb 2009 11:07:19 PM PST
Ek kon dit nie beter gestel het nie. Kom ons luister weer na God. Die susterskerke kan gerus meer geleentheid vir gemeentelede gee om te deel wat hulle persoonlike ervarings met God was. Sedert my bekering (2007) was ek nie een Sondag in 'n erediens waar die leraar vir gemeentelede geleentheid gegee het om te getuig nie.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 4:42:43 AM PST
Vir my word Koos se eksistensiële soeke en 'vind', of sy reis na individuasie, soos hy dit noem, bondig beskryf in sy gedig 'ek dood'. (Lees die gedig op teo.co.za se argief onder ''n Beleë gedig: Ek dood.') Daarin kom hy tot die gevolgtrekking dat by al ons gebrek aan kennis, weet ons ten minste dat God liefde is en liefde is lewensruimte wat nie altyd in die kerk te sien is nie. Hierin voel mens iets van Koos se deernis wat in sy voordrag deurgekom het en kry ons teoloë 'n bietjie perspektief op ons sekerhede en dogmas.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 7:44:29 AM PST
Hierdie pad is 'n bekende pad vir my ook, maar my sirkel het in 'n ander hoek ge-eindig. Die "pomp & ceremony" van die kerk, die bleekgesigte, die verdoemende preke and die bybel wat my toenemend skepties gelaat het, het my eindelik uit die hele religie gedryf. Dit is nogal heel bevrydend om te besef daar hang geen swaard oor jou kop nie, en dat realisme bo-toon voer. Jy kan dus my "bekering" beskou tot ateisme. Ek het toevallig by die skakel uitgekom, omdat ek van Koos se artikels hou. Koos se bekeringsroete is nogal pynlik, en ek wonder of daar nog onbeantwoorde vrae is. Ek wonder maar net.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 10:06:49 AM PST
as die mens tog net verstaan dat die bybel nie deur jou self verstaan kan word nie , maar dat die heilige gees van God jou moet leis soos jy lees en bid ...................daarom die verwydering van tussen mens en God..............VANDAAR DIE BUS MET ( PROBABLY THEIR IS NO GOD WHY WORRIE ENJOY YOUR LIVE . DIE MENS MAAK HOM GEREED VIR N VERDOMENISE STRAF MAN !
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 1:22:51 PM PST
Koos is 100% reg as hy se dat jy nooit ooit die geleentheid kan vergeet wat jy met die 'Gas uit die buitenste ruimte maaltyd gehou het nie'. Ek glo ook dat daardie eerste 'maaltyd' 'n ewige impak op sy lewe sal he en soos ek God ervaar, sal Hy getrou aan Sy Woord hom nooit uit Sy Hand laat gaan nie. Ek het ook so 'n tipiese geestelikke roete gestap, enigste verskil dat ek het my eerste ware 'maaltyd' eers op 30jarige leeftyd gehad na jare in en uit die kerk. Ek kan getuig dat hierdie een blywend is en dat ek met baie dinge vrede gemaak het, ek het ook 'n 'kerk' gevind wat gebasseer is op die Waarheid in God se Woord, maar my nie verstrengel soos voorheen nie. Ek voel bevry en God se vergifnis, genade en getrouheid oorweldig my. Ek is nie meer besig met 'godsdiens' nie, maar is in 'n verhouding met God 3-enig waarin daar wynig reels en regulasies is. Ek wil graag ook noem dat Die Woord het skielik 'Lewend' geword en DIT is absoluut amazing. LW hierdie 1ste 'maaltyd' is nou al darem amper 6 jaar in die verlede so dit is nie meer net 'n emosionele 'high' nie! Jesus se leringe was SO revolusioner ek dink nie eers mense het tot vandag toe die diepte en die wydte daarvan besef nie. Sy benadering is SO liberaal dat dit die mees liberale sienings van vandag oorskadu - dit moet net in die regte LIG toegepas word - 'Whom the Spirit sets free shall be FREE INDEED!' Lees Rom8. As ek mag kritiek lewer: die enigste probleem wat ek het met Koos se benadering het is die individualisme daarin, die Ware bekering en vrymaking kan slegs kom wanneer ons die 'ou' mens kan 'afsterf' en as 'n nuwe skepsel in Jesus kan 'opstaan'. Ware vryheid kom slegs in die sterwe van self - 'dying to LIVE'!!! Ek is self nog besig met hierdie proses van sterwe - glo my dis nie maklik nie.
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 2:13:41 PM PST
Ek is 77jr lid van die NGKerk, en het nog nooit die karikatuur-kerk teë gekom wat Koos en Skepties( een kommentaar) van praat nie. Geen predikant,kerkraadslid of lidmaat is volmaak nie( ook nie Koos en Skepties nie),
Maar die oorgrote meerderheid soek opreg om die Here te dien. Sê waar kan ek die "pomp & ceremonie", die bleek gesigte en die verdoemende preke kry, ek wil dit graag eerstehands sien. Ek dink egter dit bestaan hoofsaaklik in sommige se koppe!
|
|
se kommentaar op 06 Feb 2009 9:43:21 PM PST
Hier en daar gryp Koos 'n stukkie Waarheid vas - en sy indrukke oor Jesus se kuisiging en veral natuurlik opstanding, asook die verhouding wat ons met God het staan sentraal in die hele 'bekeringsproses'. Ek wil glo sy eerste bekering was eintlik maar DIE een, en gelukkig is dit al wat nodig is; daarna is God met jou (nie meer uit die buitenste ruimtes nie - maar binne jou) en is jy op 'n roete van heiligmaking. Hierdie ander paaie wat Koos gestap het, mag sprekend wees daarvan. Net bietjie in ons pasoppens wees vir 'Liquorice-all-sorts' filosowe soos Ekhardt Tolle - wedergebore beteken presies dit - die ou mens is WEG - beslis nie net 'n 'higher level of consciousness nie'. So eet gerus daagliks saam met Hom, maar weet Hy eis onvoorwaardelike aanvaarding van Sy genade en liefde en die uitvoering van Sy opdrag - 'word 'n visser van mense in Sy Naam in hierdie gebroke werklikheid'.
|
|
se kommentaar op 07 Feb 2009 3:07:35 AM PST
Ek stem saam met Koos. Ek het grootgeword in die Pinksterkerke en is steeds lief daarvoor (daar is meer van die waarheid daar in elk geval as elders maar jy moet maar met 'n slim bril na hulle ook kyk). Vir die NG kerk en al sy aangeplaktheid en swaarigheit en heavy dogmas het ek nooit tyd gehad nie. My een meisie was 'n dominee se kind en hy en ek het eendag groot stry gekry want hey het sy kinders en kerk-onderdane geleer dat die Duiwel nie betsaan nie. Dis soos om vir SA te sê dat Zuma nie betsaan nie. (Koos, by the way: Die "ê" maak mens so: druk die Alt knoppie op jou keybord en terwyl jy dit inhou, druk op die numeric keybord aan jou regterkant 136) Ek het ook 'n eerste persoonlike ervaring met Jesus gehad toe ek klein was en is ook groot gedoop en kan ook in tale praat (sonder aansit) maar dit was nog nooit vir my so belangrik as om uit te vind na al hierdie jare wat is "die weg" (in die Engels is dit beter gestel as "the way" (of in Afrikaans: "die manier") wat God wil he ons moet wees nie). Wat God se geslag betref is dit ook sekerlik nie belangrik nie maar aangesien ek Jesus navolg (en God deur hom) leer hy my van Sy 'Vader' (en nie sy moeder nie). So vir my is dit 'n Vader (manlik). Vandag ek 'n pa geword het het ek regtig eers die God wat ek aanbid verstaan. Iemand ('n Grootste entiteit wat in Openbaring 4 beskryf word) wat my erg liefhet, my sien val voor ek nog vir Hom kan kom sê dit het gebeur, en wat ny altyd by Hom wil hê. Wat my sien seerkry voor ek hom nog daarvan vertel. Hy begin reeds die pleisters nader trek (soos ek met my laatie) voor ek hom nog die skaafplek wys. Hy is my PA. Ek verstaan wat Koos sê en ek stem saam. Ek en Koos is min of meer op dieselfde plek. Angus is 'n nice oom maar hy en die Du Toit's maak dalk ook 'n buck uit die saak. Ewentewil, enige goeie nuus is goeie nuus en ons land het goeie nuus en minder slegte nuus nodig so, ek skiem Oom Angus kan maar aanhou skryf in die Farmers Weekly. Cheers, Koos. Sien jou innie hemel.
|
|
se kommentaar op 07 Feb 2009 3:48:20 AM PST
Dankie Koos, dat jy jou hart so oopmaak vir die werled. Dit vat meer guts as wat die meeste mense het. Jy het beslis my respek gewen.
|
|
se kommentaar op 07 Feb 2009 6:54:06 AM PST
Dit gebeur amper nooit dat ek 'n kykie neem in die Burger nie. Ek is woonagtig in Nederland, maar het opgegroei in die Kaap. Daar is 'n klein kansie dat dit toevallig was, dat ek hierdie rubriek gelees het. En die naam Koos Kombuis is vaagweg bekend, maar nooit het dit my geboei nie. Nou het ek die gevoel om in kontak te kom met hierdie Koos. Wil graag 'n email adres los en hoop op reaksie: hwilhelmse@gmail.com
|
|
se kommentaar op 08 Feb 2009 12:49:01 PM PST
As Koos Kombuis maar by die eerste bekering gebly het sou sy lewe soveel minder gekompliseerd gewees het. Die eenvoudige evangelie van die Here wat hom liefhet en sy sonde vergewe as hy dit bely, is op die end die enigste evangelie. Dis vreemd dat Koos met sy evangelievreemde siening oor sy volgende "bekerings" na `n fakulteitsopening genooi word, tensy die fakulteit nie bewus was van wat hy verkondig nie! Om oop gesprek te stimuleer kon dalk die motief wees, mits mens net die versekering het dat die teologiese fakulteit van Pretoria hul totaal distansieer van Koos se dwaling tov die laaste twee sg bekerings.
|
|
se kommentaar op 14 Feb 2009 5:23:02 AM PST
"Vir die NG kerk en al sy aangeplaktheid en swaarigheit en heavy dogmas het ek nooit tyd gehad nie. My een meisie was 'n dominee se kind en hy en ek het eendag groot stry gekry want hy het sy kinders en kerk-onderdane geleer dat die Duiwel nie bestaan nie."
As redakteur my vergun nog net hierdie opmerking, oor wat Leon die wêreld ingestuur het: Leon, Jou meisie se pa het gedwaal. Orals waar mense is kry jy dwaling. "Aangeplaktheid en swarigheid" Dis te algemeen noem feite! Sommige predikante het minder charisma, maar dis nie die N.G.Kerk nie.
"Heavy dogmas" wat se goggas is dit? Beskryf dit, of erken jy weet nie waarvan jy praat nie!
|
|
se kommentaar op 18 Feb 2009 1:53:44 PM PST
Koos se vriende wat hom na Jesus gelei het, het die punt begryp wat al die kerke daarna heeltemal met hom gemis het: vir God gaan dit oor VERHOUDINGE: dié is vir Hom belangriker as enigiets anders. Nie doktrine of liturgie of mistieke ervarings nie. Die kerk het hierdie dinge belangriker gemaak as om 'n verhouding met Koos te bou. God se definisie van verhouding is beide met Hom en met mekaar. Ek juig dat die Goeie Herder vir Koos teruggedra het na Sy kraal. Nou hoop ek van harte die ander skape sal meer moeite begin doen om hom deel van werklike Koinonia - Gemeenskap van Gelowiges - te maak. Al moet dit dan weg van georganiseerde godsdiens in 'n huiskerk of selgroep wees. En ja, ons ou skape het maar almal groot neusgate of skewe ore. Dit is juis in gemeenskap waar ons growwe hoeke afgeslyp word. Dit is wonderlik dat die Here mense soos Koos Kombuis lei om die kerk so nou en dan uit haar gemaksone te skud. Spits julle ore, Tokkelokke!
|
|
se kommentaar op 11 May 2009 11:56:14 AM PST
Koos vra: "Hoe weet mens as jy bekeer is?"
Antwoord: 2 Cor 5:17 "Therefore if any man be in Christ, he is a new creature: old things are passed away;"
"Baie min het verander,"
"hierdie bekering ‘n suiwer sekulêre bekering."
"maar ‘n rustige gemeenskap, die soort leef-in-die-oomblik-vrede wat beskryf word in die boeke van Eckhart Tolle."(Eckhart Tolle-New Ager)
"Ek is nie ‘n Christen nie."
"Teruggaan kerk toe was egter buite die kwessie."
|
|
se kommentaar op 05 Jul 2009 5:04:31 AM PST
Het vanoggend 5 Julie van jou 3 bekerings gehoor. Gaan 'n mens nie maar jou lewe lank deur vele bekerings nie? Is daar werklik iemand wat soos Jesus gelewe het, sondeloos, kan lewe. Dankie vir jou ontboeseming, ek weet verseker dat geloof my al vele male deur donker tye gedra het.
|


Author)