- Tuis
- Deur ander se oë
- Die Samaritane en hulle Tora
Die Samaritane en hulle Tora
- Deur Alphonso Groenewald
- Gepubliseer 27 November 2008
- Deur ander se oë
-
Evaluering:




Alphonso Groenewald
Alphonso Groenewald se Artikels
Dikwels vind ons verwysings in die Nuwe Testament na die Samaritane. Wie was hierdie groep? Wat moet ons onder die begrip Samaritaan verstaan? Hiermee word diegene bedoel wat behoort het aan daardie betrokke godsdienstige gemeenskap wat hulle religieuse sentrum op die berg Gerisim by Sigem (die huidige Nablus) gehad het; in teenstelling met diegene wat hulle sentrum op die berg Sion in Jerusalem gehad het. Net soos in die Judaïsme was die Samaritane ook verbonde aan die Jahwe-geloof van oud-Israel. Hulle selfbenaming Samarim (Hebreeus = bewaarder) is ‘n aanduiding van die feit dat hulle daarop aanspraak gemaak het dat hulle die ware geloof van oud-Israel op die regte manier bewaar het.
Daar bestaan genoeg bewyse daarvoor dat die Jode en die Samaritane aan die einde van die 5e eeu v.C. hulleself nog as behorende tot een en dieselfde godsdiens beskou het. Beide hierdie groepe het die Tora, wat vermoedelik eers aan die einde van die 4e eeu v.C. afgesluit is, aanvaar. Die Samaritane het egter ‘n eie kultustradisie op die berg Gerisim in stand gehou en het nie aan die Jerusalemse kultus deelgeneem nie.
Dit is egter nie presies duidelik wanneer die weë van die Jode en die Samaritane geskei het. Wat ons egter wel weet is die feit dat daar in die 2e eeu soveel spanning tussen hierdie twee groepe ontstaan het dat die Hasmoniese koning Johannes Hirkanus die Samaritaanse Tempel op die berg Gerisim laat verwoes het. Tydens die totstandkoming van die Nuwe-Testamentiese geskrifte is die Samaritane nie meer as Jode beskou nie: dit sien ons duidelik uit onder andere Matt 10:5 en Joh 4:9.
Ten spyte hiervan het daar egter nog altyd groot ooreenkomste tussen beide hierdie godsdienstige groeperinge bestaan: hulle het dieselfde hooffeeste onderhou en beide was gebaseer op die Tora. Die verskille wat ons tussen die Joodse en die Samaritaanse Pentateug opmerk, is ‘n duidelike gevolg van die konflik wat tussen hierdie twee groepe so toegeneem het dat dit ‘n breuk tussen hulle veroorsaak het: terwyl dit duidelik word dat die Joodse Tora gepoog het om alle verwysings na die berg Gerisim uit alle oorlewerings te verwyder, word hierdie verwysings egter nog sterker in die Samaritaanse Pentateug beklemtoon: die verwysing in Deut 27:4vv om op berg Gerisim ‘n altaar op te rig, word hier as “elfde gebod” aan beide die dekaloë in Eks 20 en Deut 5 bygevoeg.
Bron
Welt und Umwelt der Bibel, 4/2008, p. 6.
Versprei die Woord
4 Reaksies op "Die Samaritane en hulle Tora" 
|
se kommentaar op 28 Nov 2008 8:36:19 AM PST
Dit is 'n uitstekende artikel, maar aan die kort kant.
|
|
se kommentaar op 02 Dec 2008 12:41:39 AM PST
Insiggewend
|
|
se kommentaar op 05 Mar 2010 11:24:04 PM PST
Bestaan die Samaritane in vandag se moderne lewe en watter nasie sou hulle wees
|
|
se kommentaar op 19 Apr 2010 4:07:09 AM PST
Ja, die Samaritane bestaan vandag nog en woon in Israel (ek weet nie of daar buite Israel ook Samaritane is nie) Hulle is maar min in getal.
|


Author)