Oor spaghetti- en kaalgelowigheid...
- Deur Christo Lombaard
- Gepubliseer 19 November 2008
- Artikels
-
Evaluering:




Christo Lombaard
Christo Lombaard se Artikels
In ‘n interessante slotbriefie op twee blaaie gewy aan die Belhar-belydenis van voorverlede Saterdag se bylaag tot Beeld By, skryf iemand Nee dankie vir dié Christene wat dan nou “so erg onder mekaar baklei”, naamlik oor dié veelbetwiste moontlike vierde belydenisgeskrif vir die NG Kerk. Éénheid, soek die briefskyfster as kenmerk van ‘n gemeenskap van God; nie verdeeldheid nie. Anders gestel: waar gelowiges is, hoort daar nie stryd nie.
Dit is beide ’n baie gewilde en ‘n ou standpunt, dié dat Christene konflikloos moet lewe, en dat só ’n vrede aantreklik sal wees vir “die wêreld”. Dit is ook ’n sterk-geromantiseerde standpunt. Geen enkele belangrike geskrif of besluit in die kerk se geskiedenis het naamlik gevegvry gekom nie. Om te begin “in die begin”: die Ou Testament is deurspek met ingewikkelde, hoogs gesofistikeerde strydgesprekke tussen die verskillende outeurs, soos wat hulle op verskillende tye en plekke probeer sin maak het van hulle lewens saam met God. So byvoorbeeld het die profete-leerlinge en die priestersgesindes in die halfmillennium voor Christus dramaties verskil: is die profetewoorde God se grootste les vir die gelowiges, of die Moses-wette? Oor die Dawidskoningshuis is twee ganse, strydende geskiedenisse geskryf (die Samuel- en Koningsboeke versus die Kroniekeboeke). In die Nuwe Testament, ewenees, vind verskillende Jesus-beelde neerslag: Jesus, Messias vir die adelikgesinde Jode (Matteus), versus Jesus, Randfiguur vir armes, vroue en verworpenes (Lukas), versus Jesus, ewig-verhewe Woord vir Grieksdenkendes (Johannes). Dít, om maar net enkele, oorvereenvoudigde voorbeelde te noem. Verskilloos was die Godsvolk van oudsher af nooit.
Dieselfde deur die kerkgeskiedenis heen. Die groot formulerings, oor die God- én mensheid van Jesus, oor die Drie-eenheid, en dies meer, asook die groot Protestantse formuliere uit die 16de en 17e eeue, het almal tot stand gekom midde-in intense strydgesprekke. Politieke en sosiale dimensies het ’n beduidende rol gespeel in hoe die prosesse rondom sulke formulerings verloop het – in die kerklike én Bybelse tekste.
Tog bly smag baie mense na ’n “helder tyd”, waar los van mags- en geldspel maklik geglo kan word. Suiwer geloof, onbesoedeld deur enigiets mensliks. Alles in éénvoud. Dit is hoe dit ís. Twyfelloos. Ons wil dié versugting terugprojekteer na ’n vroeëre, beter tyd – die goeie ou dae – toe almal mos maar gewéét het wat gaan vir wat. Dit is maar net nóú wat teoloë ons mense sou kom deurmekaarmaak...
Al wat só ’n verwagting egter meebring, is ’n miskenning van die kompleksiteit van elke verlede. Die spaghetti-dis van geloof en filosofie en kultuur en politiek en persoonlikhede en tradisie en behoefte aan vernuwing, én meer, was nog altyd daar – van die vroegste mondelinge oorlewerings wat die Ou en Nuwe Testament voorafgegaan het, tot op ons dag. En verander gaan dié spaghetti-resep seersekerlik nie.
Sterker gestel: dit behoort ook nie te verander nie. Want so wérk geloof mos maar. Nog van altyd af. Dit is juis in die stryd om die mees geldige verstaan van ’n lewe vóór God ín hierdie wêreld dat baie energie en kreatiwiteit loskom. Immers, om die Onbeskryflike, die Gans Andere, onder woorde te bring, is g’n kinderspeletjies nie.
Daarom juis is stryd ’n kenmerk van geloof. Net mense wat God en medemens ernstig neem is bereid om soveel moeite te maak met hulle geloofsverwoording. Konflik in kerklike kringe is dus geen onding nie; eerder bewýs dit geloof. God en ons lewe in ’n Godsverhouding maak genoeg saak dat ons nie opinieloos voor elke saak kan staan nie. Net die keiser wat kaal was kon kleedloos rondloop – en homself bespotlik bewys. Geloof is net te belangrik dat ons alle stryd-idees moet neerlê, om sogenaamd “werklikwaar” te glo. Om te soek na wat midde-in geskille die skille van oë sal laat val, is óók opregte geloof.
Eenstemmigheid binne die geloof moet dus nie verwar word met eenheid van geloof nie. As eersgenoemde afgeforseer word, word geloof eintlik doodgedruk. Al wat dan oorbly, is waarhede waartoe ons instem. ’n Klub vir eendersdenkendes. En ’n klomp ja-broers/ja-susters saam is geen geloofsgemeenskap – lewend, dienend, soekend – nie.
Natuurlik is hierdie komplekse geloofsgeskiedenis níé die idee wat ’n mens kry uit kinder-Bybels en Sondagskoollesse nie. Dis maar kleuterteologie vir – juis – kleuters. Om vas te hou aan dié dinge van ’n kind (1 Kor. 13:11-12) is om onsself te bly uitverkoop aan ‘n geromantiseerde eenvoud. En in só ‘n kaalgelowigheid lê die kiem van gestolde geestelike groei, swak naastediens, en ketterjagtery op dié wat die Christelike geloofsgeskiedenis vierkant in die oë kyk.
Versprei die Woord
4 Reaksies op "Oor spaghetti- en kaalgelowigheid..." 
|
se kommentaar op 20 Nov 2008 10:40:07 PM PST
Dankie Christo. Dit het alles te doen met hoe ek die lewe voor die aangesig van God verstaan. Wil ek he almal moet dit sien soos ek dit sien, moet ek teenstand verwag. Die Skrif as prisma van multichrome spiritualiteit moet my monochrome spiritualiteit aan die lig stel. Juis in die kompleksiteit van lewe voor Sy aangesig kom die rykdom van verskeidenheid en kreatiewe energie voor. Vraag is: het ek die kapisiteit en ingesteldheid om dit te waardeer?
|
|
se kommentaar op 21 Nov 2008 12:37:43 AM PST
U dra u boodskap sterk oor in u besondere styl. Ek hou baie daarvan. Ek moet egter nog u uiteensetting versoen met die gedagte dat versoening en eensgesindheid wel die Here se segen gebied (Psalm 133), en dat dit nie net die romantiese idee van 'n digter is nie. Dit pla my as u verwys na "ons stryd-idees" en "opinies" as wapens van 'n lewendige geloof. Dis die waarhede van die geloof wat vra om in liefde uitgevoer te word, ons opinies daaromtrent ten spyt. Stryd en twis openbaar juis veel meer vlees as wat "woordvoerders" besef.
|
|
se kommentaar op 21 Nov 2008 1:29:31 AM PST
'n Puik artikel. Sonder strydgesprekke kan die teologie ook nie vorder nie.
|
|
se kommentaar op 21 Nov 2008 9:23:18 AM PST
Ons mag maar verskil van mekaar solank ons nie persoonlike aanvalle maak op diegene wat van ons verskil nie. Dit is lekker om kennis te neem van 'n verskeidenheid standpunte in enige vakwetenskap. Dit daag ons immers uit om die ander se standpunt net so goed te formuleer as hyself. Dan verstaan ons dit alhoewel daar nie saamgestem word nie. Dankie vir die goeie artikel.
|


Author)