Meditatio: Plesiere van die lewe (Pred. 3:13)
- Deur Dirk Human
- Gepubliseer 16 November 2008
- Preekhulp
-
Evaluering:




Dirk Human
Dirk Human se Artikels
Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog nie goeie kan geniet, ook dit is ’n gawe van God (Pred 3:13).
Elkeen van ons is op soek na die sin van die lewe. Genot, opwinding en bevrediging van die aangename lewenservarings gee sin en lewensvreugde. Of jy dit sien, daaraan kan vat, proe of ruik, maak nie saak nie: wanneer iets mooi, aangenaam of lekker is, maak dit die lewe vol en sinvol.
Die Bybel maak jou bewus van verskeie dinge wat genot en positiewe plesier verskaf. Dink aan die ervaring om die natuurskoon te geniet (Pss 19; 104). In die bewondering van die natuur kry die mens ontsag vir God, hetsy dit ’n landskap, die reënval, ’n oes, of plantegroei is (Ps 65). Van die sneeuvlokkie tot die seisoensveranderinge stem jou tot bewondering (Ps 147).
Estetiese skoonheid skep innerlike genot. Die psalmdigter is oorweldig deur die skoonheid van die tempel: ‘Hoe lieflik is u woning, Here’ (Ps 84). By die aanhoor van musiekklanke (Ps 81), die woorde van ’n wyse mens (Pred 12:9-11), mooi woorde van ’n gedig (Ps 45) of die liefdeswoorde van ’n beminde ontroer dit die hart. Moenie die mooi liggaam en teenwoordigheid van ’n geliefde vergeet nie (Hoogl 1). Dit prikkel die traanspiere van plesier.
In die klein dingetjies van die alledaagse lewe lê diep vreugde opgesluit: nie net in die eet en drink of mooi aantrek nie (Pred 9), maar in jou werk wanneer jy iets vir iemand anders beteken. In jou deugde en wyse optrede teenoor ‘ander’ vind mense groot vreugde (Ps 112). Om te rus van jou arbeid en te ‘slaap’ is eweneens ’n aangename en godgegewe gawe (Pred 6:10-11).
Binne die wêreld van onrus, spanning en ongelukkigheid kan jy vreugde vind in die mense naby jou. Dit kry jy in ’n geliefde, die vrou van jou lewe, die kinders in jou huis of selfs die kleinkinders (Ps 128). Wanneer mense gelukkig saamwoon, skep dit harmonie en vrede onder mekaar asook in die groter gemeenskap (Ps 133).
Vir gelowiges lê daar vreugde in hulle aanbidding van God saam met medegelowiges (Ps 84) of in die binnekamer. Om jou vreugde te deel in gebed, sang, feesviering of ander rituele bring God en sy werk naby aan jou.
Ons moet die ‘goeie van die lewe’ elke dag (Pred 6:6ev) geniet, sonder om daaroor skuldig te voel. God gee dit aan sy kinders om hulle gelukkig te maak.
Help my, Here, om die aangename dinge van die lewe elke dag ten volle te geniet.
Versprei die Woord
2 Reaksies op "Meditatio: Plesiere van die lewe (Pred. 3:13)" 
|
se kommentaar op 21 Nov 2008 8:57:24 AM PST
Dit is wonderlik dat daar in hierdie Meditatio klem gelê word op die feit dat God ons die lekker dinge in die lewe ook gun. Ons hoef nie die lekker in die lewe op te offer vir geloof of kerk nie. Ons kan die lewe se oorvloed geniet. Maar ek dink die voorwaarde is dat ons die aarde se hulpbronne nie uitbuit nie.
|
|
se kommentaar op 28 Nov 2008 3:44:45 AM PST
Wat 'n aangename ervaring om iets sinvol oor 'n bybelteks te lees. 'n Mens hoor daar weinig van in die meeste preke. Die strooi wat mense in kerke aangebied word om te hoor (te eet), is kommerwekkend. As die kerk deur haar prediking moet bly voortbestaan, sien ek uiteindelik net kerkgeboue wat leeg staan op Sondae. Die mens kan nie op strooi alleen leef nie - hy/sy benodig ook brood. En brood is bedoel om geniet te word, met of sonder grondboontjie botter en jellie. Daarom behoort elke stukkie brood wat ons mag nuttig, ook in die kerk, ons harte met dankbaarheid te vul, en dit ook geniet!
|


Author)